Psalms


Hoofstuk 9

1 Vir die musiekleier; op die wysie van: "Sterf vir die Seun". ‘n Psalm van Dawid. (9:2) Ek wil die HERE loof met my hele hart; ek wil al u wonders vertel.
2 (9:3) In U wil ek bly wees en juig; ek wil psalmsing tot eer van u Naam, o Allerhoogste,
3 (9:4) omdat my vyande agteruitwyk, struikel en omkom van voor u aangesig.
4 (9:5) Want U het my reg en my regsaak behandel; U het gaan sit op die troon, o regverdige regter!
5 (9:6) U het die heidene gedreig, die goddelose laat omkom, hulle naam uitgedelg vir ewig en altyd.
6 (9:7) Die vyande het omgekom—puinhope vir ewig; ook die stede wat U verwoes het; hulle gedagtenis, ja, dié het vergaan.
7 (9:8) Maar die HERE sit vir ewig; Hy het sy troon reggesit vir die oordeel.
8 (9:9) En Hy self sal die wêreld oordeel in geregtigheid en die volke vonnis met reg.
9 (9:10) So is die HERE dan ‘n rotsvesting vir die verdrukte, ‘n rotsvesting in tye van benoudheid.
10 (9:11) En hulle wat u Naam ken, sal op U vertrou, omdat U die wat U soek, nie verlaat nie, o HERE!
11 (9:12) Psalmsing tot eer van die HERE wat op Sion woon; verkondig onder die volke sy dade.
12 (9:13) Want Hy wat die bloed soek, dink aan hulle; Hy vergeet die geroep van die ellendiges nie.
13 (9:14) Wees my genadig, HERE, aanskou my ellende vanweë my haters, U wat my verhef uit die poorte van die dood;
14 (9:15) sodat ek al u roemryke dade kan vertel, in die poorte van die dogter van Sion kan juig oor u heil.
15 (9:16) Die heidene het gesink in die kuil wat hulle gemaak het; hulle voet is gevang in die net wat hulle gespan het.
16 (9:17) Die HERE het Hom bekend gemaak; Hy het strafgerig geoefen; die goddelose is verstrik in die werk van sy hande. Higgajon. Sela.
17(9:18) Die goddelose sal teruggaan na die doderyk, al die heidene wat God vergeet.
18(9:19) Want die behoeftige sal nie vir altyd vergeet word, die verwagting van die ellendiges nie vir ewig verlore gaan nie.
19(9:20) Staan op, HERE, laat die mens nie sterk word nie; laat die heidene voor u aangesig geoordeel word!
20(9:21) o HERE jaag hulle skrik aan; laat die heidene weet, hulle is mense! Sela.