Psalms


Hoofstuk 36

1 Vir die musiekleier. ‘n Psalm van Dawid, die kneg van die Here. (36:2) In die binneste van my hart sê die oortreding aangaande die goddelose: Daar is geen vrees van God voor sy oë nie.
2 (36:3) Want dit vlei hom in sy oë in verband met die uitvind en haat van sy skuld.
3 (36:4) Die woorde van sy mond is onreg en bedrog; hy laat ná om verstandig te wees, om goed te doen.
4 (36:5) Hy bedink onreg op sy bed; hy gaan staan op ‘n weg wat nie goed is nie; wat sleg is, verfoei hy nie.
5 (36:6) o HERE, u goedertierenheid is tot in die hemele, u trou tot in die wolke.
6 (36:7) U geregtigheid is soos die berge van God; u oordele is ‘n groot watervloed. HERE, U behou mense en diere!
7 (36:8) Hoe kosbaar is u goedertierenheid, o God! Daarom skuil die mensekinders onder die skaduwee van u vleuels.
8 (36:9) Hulle verkwik hul aan die vettigheid van u huis, en U laat hulle drink uit die stroom van u genietinge.
9 (36:10) Want by U is die fontein van die lewe; in u lig sien ons die lig.
10 (36:11) Laat u goedertierenheid voortduur vir die wat U ken, en u geregtigheid vir die opregtes van hart.
11 (36:12) Laat die voet van die trotsaard nie oor my kom nie, en laat die hand van die goddelose mense my nie verdryf nie.
12 (36:13) Daar het die werkers van ongeregtigheid geval; hulle is neergestoot en kan nie weer opstaan nie.