Psalms


Hoofstuk 53

1 Vir die musiekleier; op die wysie van: "Máhalat." ‘n Onderwysing van Dawid. (53:2) Die dwaas sê in sy hart: Daar is geen God nie! Hulle het sleg gehandel en hul onreg afskuwelik gemaak; daar is niemand wat goed doen nie.
2 (53:3) God het uit die hemel neergesien op die mensekinders om te sien of daar iemand verstandig is, wat na God vra.
3 (53:4) Hulle het almal afgewyk, tesame het hulle ontaard; daar is niemand wat goed doen nie, ook nie een nie.
4 (53:5) Het die werkers van ongeregtigheid dan geen kennis nie, wat my volk opeet asof hulle brood eet? Hulle roep God nie aan nie.
5 (53:6) Dáár het skrik hulle oorweldig sonder dat daar skrik was; want God het die beendere verstrooi van hom wat jou beleër het; jy het hulle beskaamd gemaak, want God het hulle verwerp.
6 (53:7) Ag, mag die verlossing van Israel uit Sion kom! As God die lot van sy volk verander, dan sal Jakob juig, Israel sal bly wees.