Psalms


Hoofstuk 57

1 Vir die musiekleier; op die wysie van: "Moenie verwoes nie." Van Dawid. ‘n Gedig, toe hy vir Saul in die spelonk gevlug het. (57:2) Wees my genadig, o God, wees my genadig, want by U het my siel geskuil, en in die skaduwee van u vleuels sal ek skuil totdat die onheil verbygegaan het.
2 (57:3) Ek roep God, die Allerhoogste, aan, God wat dit vir my voleindig.
3 (57:4) Hy sal uit die hemel stuur en my verlos terwyl hy wat my vertrap, my smaadheid aandoen. Sela. God sal sy goedertierenheid en sy trou stuur.
4 (57:5) Ék moet onder leeus lê, wraakgieriges, mensekinders wie se tande spiese en pyle is, en wie se tong ‘n skerp swaard is.
5 (57:6) Verhef U bo die hemele, o God, u heerlikheid bo die hele aarde!
6 (57:7) Hulle het ‘n net gespan vir my voetstappe, hulle het my siel neergebuig; hulle het ‘n kuil voor my gegrawe, hulle val daar binne-in. Sela.
7 (57:8) My hart is gerus, o God, my hart is gerus; ek wil sing en psalmsing.
8 (57:9) Waak op, my eer! Waak op, harp en siter! Ek wil die dageraad wakker maak!
9 (57:10) Ek wil U loof onder die volke, o Here, psalmsing tot u eer onder die nasies.
10 (57:11) Want u goedertierenheid is groot tot by die hemele en u trou tot by die wolke.
11 (57:12) Verhef U bo die hemele, o God, u heerlikheid bo die hele aarde!