Psalms


Hoofstuk 31

1 Vir die musiekleier. ‘n Psalm van Dawid. (31:2) By U, o HERE, skuil ek; laat my nooit beskaamd staan nie. Bevry my deur u geregtigheid.
2 (31:3) Neig u oor tot my, red my gou; wees vir my ‘n rots om in te vlug, ‘n baie vaste huis om my te verlos.
3 (31:4) Want U is my rots en my bergvesting; en om u Naam ontwil sal U my lei en my bestuur.
4 (31:5) U sal my laat uitgaan uit die net wat hulle vir my gespan het, want U is my toevlug.
5 (31:6) In u hand gee ek my gees oor; U het my verlos, HERE, God van trou.
6 (31:7) Ek haat die wat nietige afgode vereer, maar ék vertrou op die HERE.
7 (31:8) Ek wil juig en bly wees in u goedertierenheid, omdat U my ellende aangesien, my siel in die benoudhede geken het
8 (31:9) en my nie oorgelewer het in die hand van die vyand nie; U het my voete op vrye grond laat staan.
9 (31:10) Wees my genadig, HERE, want ek is benoud; van verdriet het my oog mat geword, my siel en my liggaam.
10 (31:11) Want my lewe kwyn weg van kommer en my jare van gesug; my krag struikel deur my ongeregtigheid, en my gebeente teer uit.
11 (31:12) Vanweë al my teëstanders het ek ‘n voorwerp van smaad geword, ja, grootliks vir my bure, en ‘n voorwerp van skrik vir my bekendes; die wat my op straat sien, vlug weg van my af.
12 (31:13) Ek is vergeet uit die hart, soos ‘n dooie; ek het geword soos ‘n ding wat lê en vergaan.
13 (31:14) Want ek het die skindertaal van baie gehoor—skrik rondom! —terwyl hulle saam raad hou teen my; hulle is van plan om my lewe te neem.
14 (31:15) Maar ék vertrou op U, o HERE! Ek sê: U is my God.
15 (31:16) My tye is in u hand; red my uit die hand van my vyande en van my vervolgers.
16 (31:17) Laat u aangesig skyn oor u kneg, verlos my deur u goedertierenheid.
17(31:18) HERE, laat my nie beskaamd staan nie, want ek roep U aan; laat die goddelose beskaamd staan, laat hulle verstom in die doderyk!
18(31:19) Laat die valse lippe stom word wat in trotsheid en veragting onbeskaamd spreek teen die regverdige.
19(31:20) o, Hoe groot is u goedheid wat U weggelê het vir die wat U vrees, wat U uitgewerk het vir die wat by U skuil, in teenwoordigheid van die mensekinders!
20(31:21) U verberg hulle in die skuilplek van u aangesig vir die samesweringe van mense; U steek hulle weg in ‘n hut vir die twis van die tonge.
21(31:22) Geloofd sy die HERE, want Hy het sy goedertierenheid aan my wonderbaar gemaak, in ‘n vaste stad.
22(31:23) Ek tog het in my angs gesê: Ek het verdwyn, weg van u oë; nogtans het U die stem van my smekinge gehoor toe ek U aangeroep het om hulp.
23(31:24) Julle moet die HERE liefhê, al sy gunsgenote! Die HERE bewaar die getroues en vergeld hom oorvloedig wat trots handel.
24(31:25) Wees sterk, en laat julle hart sterk wees, almal wat op die HERE wag!