Psalms


Hoofstuk 76

1 Vir die musiekleier; met snaarinstrumente. ‘n Psalm van Asaf. ‘n Lied. (76:2) God is bekend in Juda, sy Naam is groot in Israel.
2 (76:3) Ook het in Salem sy tent verrys en in Sion sy woning.
3 (76:4) Daar het Hy die blitspyle van die boog verbreek, skild en swaard en oorlog. Sela.
4 (76:5) Glansryk is U, heerlik van die roofberge af!
5 (76:6) Geplunder is die sterkes van hart; hulle het hul slaap gesluimer, en geeneen van die dapper manne het hulle hande gevind nie.
6 (76:7) Deur u dreiging, o God van Jakob, het strydwa en perd saam bedwelmd geraak.
7 (76:8) U, vreeslik is U, en wie kan voor u aangesig bestaan as u toorn uitgebreek het?
8 (76:9) Uit die hemel het U ‘n oordeel laat hoor; die aarde het gevrees en stil geword,
9 (76:10) toe God opgestaan het vir die gerig, om al die ootmoediges van die land te verlos. Sela.
10 (76:11) Want die grimmigheid van die mens moet U loof; met die oorblyfsel van grimmighede gord U Uself.
11 (76:12) Doen geloftes en betaal dié aan die HERE julle God! Laat almal wat rondom Hom is, geskenke bring aan die Vreeslike,
12 (76:13) wat die trots van die vorste wegsny, vreeslik is vir die konings van die aarde.