Psalms


Hoofstuk 51

1 Vir die musiekleier. ‘n Psalm van Dawid, (51:2) toe die profeet Natan na hom gekom het, nadat hy by Bátseba ingegaan het. (51:3) Wees my genadig, o God, na u goedertierenheid; delg my oortredinge uit na die grootheid van u barmhartigheid.
2 (51:4) Was my heeltemal van my ongeregtigheid en reinig my van my sonde.
3 (51:5) Want ék ken my oortredinge, en my sonde is altyddeur voor my.
4 (51:6) Teen U alleen het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in u oë, sodat U regverdig kan wees as U spreek, rein as U gerig hou.
5 (51:7) Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang.
6 (51:8) Kyk, U het ‘n welgevalle aan waarheid in die binneste, en in die verborgene maak U aan my wysheid bekend.
7 (51:9) Ontsondig my met hisop, dat ek kan rein wees; was my, dat ek witter kan wees as sneeu.
8 (51:10) Laat my vreugde en blydskap hoor; laat die gebeente juig wat U verbrysel het.
9 (51:11) Verberg u aangesig vir my sondes en delg uit al my ongeregtighede.
10 (51:12) Skep vir my ‘n rein hart, o God, en gee opnuut in die binneste van my ‘n vaste gees.
11 (51:13) Verwerp my nie van u aangesig nie en neem u Heilige Gees nie van my weg nie.
12 (51:14) Gee my weer die vreugde van u heil, en ondersteun my deur ‘n gewillige gees.
13 (51:15) Ek wil die oortreders u weë leer, dat die sondaars hulle tot U kan bekeer.
14 (51:16) Red my van bloedskuld, o God, God van my heil! Laat my tong u geregtigheid uitjubel.
15 (51:17) Here, open my lippe, dat my mond u lof kan verkondig.
16 (51:18) Want U het geen lus in slagoffer nie, anders sou ek dit gee; in brandoffer het U geen behae nie.
17(51:19) Die offers van God is ‘n gebroke gees; ‘n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie!
18(51:20) Doen goed aan Sion na u welbehae; bou die mure van Jerusalem op.
19(51:21) Dan sal U ‘n welbehae hê in die offers van geregtigheid, in brandoffer en voloffer; dan sal hulle stiere offer op u altaar.