Lukas - Luke
Hoofstuk 8
1 En daarna het Hy die een stad en dorp ná die ander deurgereis en gepreek en die evangelie van die koninkryk van God verkondig; en die twaalf was saam met Hom,
2 ook sekere vroue wat genees was van bose geeste en siektes: Maria wat Magdaléna genoem word, uit wie sewe duiwels uitgegaan het,
3 en Johanna, die vrou van Gusa, ‘n bestuurder van Herodes, en Susanna en baie ander wat Hom almal met hulle besittings gedien het.
4 En toe daar ‘n groot menigte vergader, en die wat uit die verskillende stede by Hom aangesluit het, sê Hy aan hulle deur ‘n gelykenis:
5 ‘n Saaier het uitgegaan om sy saad te saai; en toe hy saai, val ‘n deel langs die pad en is vertrap, en die voëls van die hemel het dit opgeëet.
6 En ‘n ander deel het op die rots geval; en nadat dit opgeskiet het, het dit verdroog, omdat dit geen vogtigheid gehad het nie.
7 En ‘n ander deel het tussen die dorings in geval; en die dorings het daarmee saamgegroei en dit verstik.
8 En ‘n ander deel het in die goeie grond geval en gegroei en honderdvoudige vrug opgelewer. Toe Hy dit gesê het, roep Hy uit: Wie ore het om te hoor, laat hom hoor!
9 En sy dissipels het Hom gevra en gesê: Wat beteken hierdie gelykenis tog?
10 En Hy antwoord: Aan julle is dit gegee om die verborgenhede van die koninkryk van God te ken; maar aan die ander deur gelykenisse, sodat hulle, terwyl hulle sien, nie sien nie, en terwyl hulle hoor, nie verstaan nie.
11 Dit is dan die gelykenis: Die saad is die woord van God.
12 Dié langs die pad is die hoorders. Daarna kom die duiwel en neem die woord uit hul harte weg, sodat hulle nie sou glo en gered word nie.
13 En dié op die rots is hulle wat die woord met blydskap ontvang wanneer hulle dit hoor; en hulle het geen wortel nie, aangesien hulle net vir ‘n tyd glo, en in die tyd van versoeking val hulle af.
14 En wat in die dorings geval het—dit is die wat gehoor het, en hulle gaan weg en word verstik deur die sorge en rykdom en genietinge van die lewe en dra geen ryp vrug nie.
15 En wat in die goeie grond val—dit is die wat, nadat hulle gehoor het, die woord in ‘n edele en goeie hart hou en met volharding vrug dra.
16 En niemand steek ‘n lamp op en maak dit met iets toe of sit dit onder ‘n bed nie; maar hy sit dit op ‘n staander, sodat die wat inkom, die lig kan sien.
17Want daar is niks verborge wat nie openbaar sal word nie, of weggesteek wat nie bekend sal word en in die lig sal kom nie.
18Pas dan op hoe julle hoor; want elkeen wat het, aan hom sal gegee word; en elkeen wat nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy dink dat hy het.
19En sy moeder en broers het na Hom gekom, en weens die skare kon hulle Hom nie bereik nie.
20Toe bring hulle Hom die boodskap en sê: U moeder en u broers staan buite en wil U sien.
21Maar Hy antwoord en sê vir hulle: My moeder en my broers is die wat die woord van God hoor en dit doen.
22En op een van daardie dae het Hy en sy dissipels in ‘n skuit gegaan; en Hy het vir hulle gesê: Laat ons oorvaar na die oorkant van die see. En hulle het weggevaar
23En terwyl hulle seil, raak Hy aan die slaap. Toe kom daar ‘n stormwind op die see af en die skuit het begin vol word, en hulle was in gevaar.
24En hulle het na Hom gegaan en Hom wakker gemaak en gesê: Meester, Meester, ons vergaan! Hy staan toe op en bestraf die wind en die watergolwe, en hulle het bedaar en daar het ‘n stilte gekom.
25En Hy sê vir hulle: Waar is julle geloof? Maar hulle was bang en verwonderd en het vir mekaar gesê: Wie is Hy tog, dat Hy selfs die winde en die water gebied en hulle Hom gehoorsaam is!
26En hulle het geseil na die land van die Gadaréners, wat reg anderkant Galiléa is.
27En toe Hy aan wal uitklim, kom ‘n sekere man uit die stad Hom tegemoet, wat vir ‘n geruime tyd van duiwels besete was en geen klere gedra het nie; hy het ook nie in ‘n huis gewoon nie, maar in die grafte.
28En toe hy Jesus sien, skreeu hy uit en val voor Hom neer en sê met ‘n groot stem: Wat het ons met U te doen, Jesus, Seun van die allerhoogste God? Ek bid U, moet my nie pynig nie—
29want Hy het aan die onreine gees bevel gegee om uit die man uit te gaan. Want baiekeer het hy hom saamgesleep; en hulle het hom gebind met kettings en voetboeie om oor hom wag te hou; maar hy het die boeie uitmekaar geruk, en die duiwel het hom in die woestyne gedrywe.
30Daarop vra Jesus hom en sê: Wat is jou naam? En hy antwoord: Legio—want baie duiwels het in hom ingevaar.
31En hulle het Hom gesmeek dat Hy hulle nie sou beveel om in die onderwêreld af te vaar nie.
32En daar het ‘n groot trop varke op die berg gewei. Toe smeek hulle Hom dat Hy hulle sou toelaat om in dié varke in te vaar. En Hy het hulle toegelaat.
33Daarop gaan die duiwels uit die man uit en vaar in die varke in, en die trop het van die krans af in die see gestorm en verdrink.
34En toe die wagters sien wat gebeur het, het hulle gevlug en dit in die stad en in die buitewyke gaan vertel.
35Daarop het hulle uitgegaan om te sien wat gebeur het; en hulle het by Jesus gekom en die man gevind uit wie die duiwels uitgevaar het, terwyl hy aan die voete van Jesus sit, gekleed en by sy verstand. En hulle het gevrees.
36En die wat ooggetuies was, het ook aan hulle vertel hoe die besetene genees is.
37En die hele menigte van die omtrek van die Gadaréners het Hom gevra om van hulle weg te gaan, omdat hulle deur ‘n groot vrees bevang was. Toe het Hy in die skuit geklim en teruggegaan.
38En die man uit wie die duiwels uitgevaar het, het Hom gebid om by Hom te kan bly. Maar Jesus het hom laat gaan en gesê:
39Gaan terug na jou huis en vertel watter groot dinge God aan jou gedoen het. En hy het gegaan en deur die hele stad verkondig watter groot dinge Jesus aan hom gedoen het.
40En toe Jesus terugkom, het die skare Hom verwelkom; want almal was Hom te wagte.
41En daar kom ‘n man wie se naam Jaïrus was, en hy was ‘n owerste van die sinagoge; en hy val voor die voete van Jesus neer en smeek Hom om na sy huis te kom;
42want sy enigste dogter van omtrent twaalf jaar het op sterwe gelê. En terwyl Hy gaan, het die skare Hom verdring.
43En ‘n vrou wat twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het, en wat haar hele vermoë aan geneeshere uitgegee het en deur niemand gesond gemaak kon word nie,
44het van agter af gekom en die soom van sy kleed aangeraak, en haar bloedvloeiing het onmiddellik opgehou.
45Daarop sê Jesus: Wie is dit wat My aangeraak het? En toe almal dit ontken, sê Petrus en die wat by hom was: Meester, die skare druk en verdring U, en U sê: Wie is dit wat My aangeraak het?
46Maar Jesus antwoord: Iemand het My aangeraak, want Ek het gemerk dat krag van My uitgegaan het.
47En toe die vrou sien dat sy nie verborge gebly het nie, kom sy bewende en val voor Hom neer en vertel Hom voor die hele volk om watter rede sy Hom aangeraak het en hoe sy onmiddellik gesond geword het.
48En Hy sê vir haar: Hou goeie moed, dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede.
49Terwyl Hy nog spreek, kom daar iemand van die owerste van die sinagoge se huis en sê vir hom: U dogter is dood, moenie die Meester lastig val nie.
50Maar toe Jesus dit hoor, antwoord Hy hom en sê: Moenie vrees nie. Glo net, en sy sal gered word.
51En toe Hy in die huis kom, het Hy niemand toegelaat om in te gaan nie, behalwe Petrus en Jakobus en Johannes en die vader en die moeder van die meisie.
52En almal het gehuil en oor haar rou bedryf. Maar Hy sê: Moenie huil nie; sy is nie dood nie, maar slaap.
53En hulle het Hom uitgelag, want hulle het geweet dat sy dood was.
54En toe Hy almal na buite uitgejaag het, gryp Hy haar hand en roep uit en sê: Dogtertjie, staan op!
55En haar gees het teruggekom, en sy het onmiddellik opgestaan; en Hy het beveel dat hulle haar iets te ete moes gee.
56En haar ouers was verbaas, maar Hy het hulle bevel gegee om aan niemand te sê wat gebeur het nie.