Lukas - Luke

Hoofstuk: 1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14 15 16 17 18 19 20 21 22 23 24


Hoofstuk 14

1 En toe Hy in die huis van een van die owerstes van die Fariseërs gegaan het om brood te eet op die sabbat, het hulle Hom in die oog gehou.
2 En daar was voor Hom ‘n man wat die water gehad het.
3 En Jesus het gespreek en aan die wetgeleerdes en Fariseërs gesê: Is dit geoorloof om op die sabbat te genees?
4 Maar hulle het stilgebly. Toe neem Hy hom en maak hom gesond en laat hom gaan.
5 En Hy antwoord en sê vir hulle: Wie van julle se esel of os sal in ‘n put val, wat dit nie dadelik op die sabbatdag sal uittrek nie?
6 En hulle kon Hom daarop nie antwoord nie.
7 En toe Hy merk hoe hulle die voorste plekke uitkies, vertel Hy aan die genooides ‘n gelykenis en sê vir hulle:
8 Wanneer jy deur iemand na ‘n bruilof uitgenooi is, moenie die voorste plek inneem nie, ingeval daar nie miskien een wat waardiger is as jy deur hom uitgenooi is nie,
9 en hy wat jou en hom genooi het, kom en vir jou sê: Maak plek vir hierdie man. En dan sal jy met skaamte die agterste plek begin inneem.
10 Maar wanneer jy genooi is, gaan en neem die agterste plek in; sodat wanneer hy kom wat jou genooi het, hy vir jou kan sê: Vriend, gaan hoër op! Dan sal jy eer hê voor die wat saam met jou aan tafel is.
11 Want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, en wat homself verneder, sal verhoog word.
12 En Hy sê ook vir die man wat Hom genooi het: Wanneer jy ‘n môre— of middagete gee, moenie jou vriende nooi, of jou broers of bloedverwante of ryk bure nie, sodat hulle jou nie miskien ook eendag weer uitnooi en jy vergelding ontvang nie.
13 Maar wanneer jy ‘n feesmaal gee, nooi armes, verminktes, kreupeles, blindes,
14 en jy sal gelukkig wees, omdat hulle niks het om jou te vergeld nie; want dit sal jou vergeld word in die opstanding van die regverdiges.
15 En toe een van die wat saam aan tafel was, dit hoor, sê hy vir Hom: Salig is hy wat brood eet in die koninkryk van God.
16 Maar Hy antwoord hom: ‘n Sekere man het ‘n groot maaltyd gegee en baie mense uitgenooi.
17En op die uur van die maaltyd het hy sy dienskneg uitgestuur om vir die genooides te sê: Kom, want alles is nou gereed.
18En hulle het hul almal eenparig begin verontskuldig. Die eerste het vir hom gesê: Ek het ‘n stuk grond gekoop en ek moet noodsaaklik uitgaan om daarna te kyk. Ek vra u, verskoon my tog.
19En ‘n ander een het gesê: Ek het vyf paar osse gekoop en gaan hulle probeer. Ek vra u, verskoon my tog.
20En ‘n ander een het gesê: Ek het ‘n vrou getrou en daarom kan ek nie kom nie.
21En daardie dienskneg het gekom en dié dinge aan sy heer vertel. Toe het die eienaar van die huis kwaad geword en vir sy dienskneg gesê: Gaan gou uit in die strate en die gangetjies van die stad en bring die armes en verminktes en kreupeles en blindes hier in.
22En die dienskneg het gesê: Meneer, wat u beveel het, is gedoen, en daar is nog plek.
23Toe sê die heer vir die dienskneg: Gaan uit op die paaie en na die lanings en dwing hulle om in te kom, sodat my huis vol kan word.
24Want ek sê vir julle dat nie een van daardie manne wat genooi is, my maaltyd sal smaak nie.
25En groot menigtes het saam met Hom gegaan, en Hy het Hom omgedraai en vir hulle gesê:
26As iemand na My toe kom en hy haat nie sy vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs ook sy eie lewe nie, kan hy my dissipel nie wees nie.
27En elkeen wat sy kruis nie dra en agter My aan kom nie, kan my dissipel nie wees nie.
28Want wie van julle wat ‘n toring wil bou, gaan nie eers sit en die koste bereken, of hy die middele het om dit uit te voer nie? —
29sodat as hy die fondament gelê het en nie in staat is om dit te voltooi nie, almal wat dit sien, nie miskien met hom sal begin spot
30en sê: Hierdie man het begin bou en kon nie klaarkry nie.
31Of watter koning wat optrek om teen ‘n ander koning slag te lewer, gaan nie eers sit en beraadslaag of hy in staat is om met tien duisend die een te ontmoet wat met twintig duisend teen hom kom nie?
32Anders stuur hy ‘n gesantskap as die ander een nog ver is, en vra vredesvoorwaardes.
33So kan dan ook niemand van julle wat nie afsien van al sy besittings, my dissipel wees nie.
34Die sout is goed, maar as die sout laf geword het, waarmee sal dit smaaklik gemaak word?
35Dit is nie bruikbaar vir die grond of vir die ashoop nie. Hulle gooi dit buitekant weg. Wie ore het om te hoor, laat hom hoor.