Lukas - Luke
Hoofstuk 5
1 En toe die skare by Hom aandring om die woord van God te hoor, gaan Hy by die meer Gennésaret staan
2 en sien twee skuite aan die kant van die meer lê; maar die vissers het van hulle af weggegaan en was besig om die nette uit te spoel.
3 Toe klim Hy in een van die skuite wat aan Simon behoort het, en vra hom om ‘n entjie van die land af weg te vaar, en Hy het gaan sit en die skare van die skuit uit geleer.
4 En toe Hy ophou met spreek, sê Hy vir Simon: Vaar uit na die diep water en laat julle nette sak om te vang.
5 En Simon antwoord en sê vir Hom: Meester, ons het die hele nag deur hard gewerk en niks gevang nie; maar op u woord sal ek die net laat sak.
6 En toe hulle dit gedoen het, het hulle ‘n groot menigte visse ingesluit; en hulle net wou skeur.
7 Daarop wink hulle vir hul maats in die ander skuit om hulle te kom help. En hulle het gekom en altwee die skuite vol gemaak, sodat hulle amper gesink het.
8 En toe Simon Petrus dit sien, val hy neer aan die knieë van Jesus en sê: Gaan weg van my, Here, want ek is ‘n sondige man!
9 Want verbaasdheid het hom aangegryp en almal wat by hom was, oor die vangs van visse wat hulle gemaak het;
10 en net so ook vir Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedéüs, wat Simon se maats was. En Jesus sê vir Simon: Moenie vrees nie; van nou af sal jy mense vang.
11 En nadat hulle die skuite aan land gebring het, het hulle alles verlaat en Hom gevolg.
12 En terwyl Hy in een van die stede was, kom daar ‘n man vol van melaatsheid; en toe hy Jesus sien, val hy op sy aangesig en smeek Hom en sê: Here, as U wil, kan U my reinig.
13 Daarop steek Hy die hand uit en raak hom aan en sê: Ek wil, word gereinig! En dadelik het die melaatsheid hom verlaat.
14 Toe gee Hy hom bevel om dit aan niemand te vertel nie; maar, sê Hy, gaan vertoon jou aan die priester en offer vir jou reiniging, soos Moses voorgeskrywe het, vir hulle tot ‘n getuienis.
15 Maar die gerug aangaande Hom is nog meer versprei, en groot menigtes het bymekaargekom om te luister en deur Hom van hulle siektes genees te word.
16 Maar Hy het Hom in verlate plekke teruggetrek en gebid.
17En op een van dié dae was Hy besig om te leer; en Fariseërs en wetgeleerdes wat gekom het uit elke dorp van Galiléa en Judéa en uit Jerusalem, het daar gesit, en daar was krag van die Here om hulle te genees.
18En daar het manne ‘n mens wat verlam was, op ‘n bed gebring, en hulle het probeer om hom in te bring en voor Hom neer te sit.
19En toe hulle vanweë die skare geen kans sien om hom in te bring nie, klim hulle op die dak en laat hom met die bed afsak deur die panne tussen die mense in en voor Jesus.
20En toe Hy hulle geloof sien, sê Hy vir hom: Mens, jou sondes is jou vergewe.
21En die skrifgeleerdes en die Fariseërs het begin redeneer en sê: Wie is Hy wat so godslasterlik praat? Wie kan sondes vergewe behalwe God alleen?
22Maar Jesus het hulle redeneringe gemerk, en Hy antwoord en sê vir hulle: Wat redeneer julle in jul harte?
23Wat is makliker, om te sê: Jou sondes is jou vergewe; of om te sê: Staan op en loop?
24Maar dat julle kan weet dat die Seun van die mens mag het om op aarde sondes te vergewe sê Hy vir die verlamde man: Ek sê vir jou, staan op, neem jou bed op en gaan na jou huis toe.
25Hy staan toe onmiddellik voor hulle op, neem die bed op waar hy op gelê het, en gaan na sy huis, terwyl hy God verheerlik.
26En verbasing het almal aangegryp, en hulle het God verheerlik en is met vrees vervul en het gesê: Ons het vandag ongelooflike dinge gesien.
27En ná hierdie dinge het Hy uitgegaan en ‘n tollenaar met die naam van Levi by die tolhuis sien sit en vir hom gesê: Volg My.
28En hy het alles verlaat en opgestaan en Hom gevolg.
29En Levi het ‘n groot feesmaal vir Hom in sy huis gegee; en daar was ‘n groot menigte van tollenaars en ander wat saam met hulle aan tafel was.
30En hulle skrifgeleerdes en die Fariseërs het by sy dissipels gemurmureer en gesê: Waarom eet en drink julle saam met die tollenaars en sondaars?
31En Jesus antwoord en sê vir hulle: Die wat gesond is, het die geneesheer nie nodig nie, maar die wat ongesteld is.
32Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering.
33Toe sê hulle vir Hom: Waarom vas die dissipels van Johannes dikwels en doen gebede; so ook dié van die Fariseërs; maar u dissipels eet en drink?
34En Hy sê vir hulle: Kan julle die bruilofsgaste dan laat vas solank as die bruidegom by hulle is?
35Maar daar sal dae kom wanneer die bruidegom van hulle weggeneem word; dan sal hulle vas, in daardie dae.
36En Hy het ook aan hulle ‘n gelykenis vertel: Niemand sit ‘n lap van ‘n nuwe kleed op ‘n ou kleed nie; anders skeur dit die nuwe ook, en die lap wat van die nuwe af kom, pas nie by die oue nie.
37En niemand gooi nuwe wyn in ou leersakke nie; anders sal die nuwe wyn die sakke skeur, en dit sal uitloop, en die sakke sal vergaan.
38Maar nuwe wyn moet in nuwe sakke gegooi word, en altwee word saam behou.
39En niemand wat ou wyn gedrink het, wil dadelik nuwe hê nie; want hy sê: Die oue is beter.