Lukas - Luke

Hoofstuk: 1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14 15 16 17 18 19 20 21 22 23 24


Hoofstuk 22

1 En die fees van die ongesuurde brode, wat pasga genoem word, was naby.
2 En die owerpriesters en die skrifgeleerdes het gesoek hoe hulle Hom kon ombring, want hulle het die volk gevrees.
3 En die Satan het in Judas gevaar, wat Iskáriot genoem word en wat uit die getal van die twaalf was.
4 Toe het hy gegaan en met die owerpriesters en hoofde beraadslaag hoe hy Hom aan hulle kon oorlewer.
5 En hulle was bly en het met hom ooreengekom om hom geld te gee.
6 En hy het toegestem en na ‘n goeie geleentheid gesoek om Hom sonder oproer aan hulle oor te lewer.
7 En die dag van die ongesuurde brode het gekom waarop die pasga geslag moes word.
8 Toe stuur Hy Petrus en Johannes en sê: Gaan berei die pasga vir ons, dat ons dit kan eet.
9 En hulle sê vir Hom: Waar wil U hê moet ons dit berei?
10 En Hy antwoord hulle: Kyk, as julle in die stad ingaan, sal ‘n man julle ontmoet wat ‘n kruik water dra; volg hom na die huis waar hy ingaan.
11 En julle moet vir die eienaar van die huis sê: Die Meester vra u—waar is die kamer waar Ek die pasga met my dissipels kan eet?
12 En hy sal julle ‘n groot bovertrek wys wat reggemaak is; daar moet julle dit berei.
13 En hulle het gegaan en dit gevind soos Hy vir hulle gesê het, en die pasga berei.
14 En toe die uur kom, het Hy aan tafel gegaan en die twaalf apostels saam met Hom.
15 En Hy sê vir hulle: Ek het baie sterk daarna verlang om hierdie pasga met julle te eet voordat Ek ly.
16 Want Ek sê vir julle: Ek sal sekerlik nie meer daarvan eet voordat dit in die koninkryk van God vervul is nie.
17En toe Hy ‘n beker geneem het, dank Hy en sê: Neem dit en deel dit onder julle.
18Want Ek sê vir julle: Ek sal sekerlik nie drink van die vrug van die wynstok voordat die koninkryk van God gekom het nie.
19Daarop neem Hy brood, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan hulle en sê: Dit is my liggaam wat vir julle gegee word; doen dit tot my gedagtenis.
20Net so neem Hy ook die beker ná die maaltyd en sê: Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed wat vir julle uitgestort word.
21Maar kyk, die hand van hom wat My verraai, is by My aan tafel.
22Die Seun van die mens gaan wel heen volgens wat bepaal is, maar wee daardie man deur wie Hy verraai word!
23Toe begin hulle onder mekaar te vra wie van hulle dit tog kon wees wat dit sou doen.
24En daar het ook twis onder hulle ontstaan oor wie van hulle die grootste geag moet wees.
25En Hy het vir hulle gesê: Die konings van die nasies heers oor hulle, en die wat gesag voer oor hulle, word weldoeners genoem.
26Maar so moet julle nie wees nie; maar die oudste onder julle moet word soos die jongste, en wie ‘n leier is, soos een wat dien.
27Want wie is groter: die een wat aan tafel is, of die een wat dien? Is dit nie hy wat aan tafel is nie? Maar Ek is onder julle soos een wat dien.
28En dit is julle wat altyddeur by My gebly het in my versoekinge.
29En Ek beskik vir julle ‘n koninkryk soos my Vader dit vir My beskik het,
30sodat julle kan eet en drink aan my tafel in my koninkryk en op trone sit om die twaalf stamme van Israel te oordeel.
31En die Here sê: Simon, Simon, kyk, die Satan het vurig begeer om julle soos koring te sif.
32Maar Ek het vir jou gebid, dat jou geloof nie ophou nie; en as jy eendag bekeerd is, moet jy jou broeders versterk.
33En hy het vir Hom gesê: Here, ek is gereed om saam met U selfs in die gevangenis en in die dood te gaan.
34Maar Hy antwoord: Ek sê vir jou, Petrus, die haan sal vannag nie kraai voordat jy drie maal geloën het dat jy My ken nie.
35En Hy sê vir hulle: Toe Ek julle uitgestuur het sonder beurs en reissak en skoene, het julle iets kortgekom? En hulle antwoord: Niks nie.
36Toe sê Hy vir hulle: Maar nou, wie ‘n beurs het, laat hom dit neem en so ook die reissak; en wie dit nie het nie, moet sy kleed verkoop en ‘n swaard koop.
37Want Ek sê vir julle dat dit wat geskrywe is, nog aan My vervul moet word: En Hy is saam met misdadigers gereken. Want ook aan die dinge wat betrekking het op My, kom daar ‘n einde.
38Hulle sê vir Hom: Here, kyk hier is twee swaarde. En Hy antwoord hulle: Dit is genoeg.
39En Hy het vertrek en volgens gewoonte na die Olyfberg gegaan. En ook sy dissipels het Hom gevolg.
40En toe Hy op die plek kom, sê Hy vir hulle: Bid dat julle nie in versoeking kom nie.
41En Hy het Hom van hulle afgesonder omtrent so ver as ‘n mens met ‘n klip kan gooi, en neergekniel en gebid
42en gesê: Vader, as U tog maar hierdie beker van My wil wegneem! Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geskied!
43En ‘n engel uit die hemel het aan Hom verskyn en Hom versterk.
44En toe Hy in ‘n sware stryd kom, het Hy met groter inspanning gebid, en sy sweet het geword soos bloeddruppels wat op die grond val.
45Toe staan Hy van die gebed op en kom by sy dissipels en vind hulle aan die slaap van droefheid.
46En Hy sê vir hulle: Wat slaap julle? Staan op en bid, dat julle nie in versoeking kom nie.
47En terwyl Hy nog spreek, kom daar ‘n skare; en hy wat Judas genoem word, een van die twaalf, het voor hulle uit geloop en nader gekom na Jesus om Hom te soen.
48En Jesus sê vir hom: Judas, verraai jy die Seun van die mens met ‘n kus?
49En toe die wat rondom Hom was, sien wat gaan gebeur, sê hulle vir Hom: Here, moet ons met die swaard slaan?
50En een van hulle het die dienskneg van die hoëpriester getref en sy regteroor afgekap.
51Maar Jesus het geantwoord en gesê: Hou op, dit is genoeg! En Hy het sy oor aangeraak en hom gesond gemaak.
52Toe sê Jesus vir die owerpriesters en hoofde van die tempel en ouderlinge wat teen Hom gekom het: Het julle uitgetrek soos teen ‘n rower met swaarde en stokke?
53Dag vir dag was Ek saam met julle in die tempel, en julle het nie die hande teen My uitgesteek nie. Maar dit is julle uur en die mag van die duisternis.
54En hulle het Hom gevange geneem en weggelei en Hom gebring in die huis van die hoëpriester. En Petrus het van ver af gevolg.
55En toe hulle ‘n vuur in die middel van die binneplaas van die paleis gemaak en bymekaar gaan sit het, het Petrus onder hulle gesit.
56En ‘n diensmeisie het hom daar by die vuur sien sit; en nadat sy hom vas aangekyk het, sê sy: Hierdie man was ook saam met Hom.
57Maar hy het Hom verloën en gesê: Vrou, ek ken Hom nie.
58En kort daarna sien iemand anders hom en sê: Jy is ook een van hulle. Maar Petrus sê: Man, ek is nie.
59En ná verloop van omtrent een uur het ‘n ander een dit verseker en gesê: Sowaar, hierdie man was ook saam met Hom, want hy is ook ‘n Galiléër.
60Maar Petrus antwoord: Man, ek weet nie wat jy sê nie. En onmiddellik, terwyl hy nog praat, het die haan gekraai.
61En die Here het Hom omgedraai en Petrus aangekyk, en Petrus het die woord van die Here onthou wat Hy vir hom gesê het: Voordat die haan kraai, sal jy My drie maal verloën.
62En Petrus het buitentoe gegaan en bitterlik geween.
63En die manne wat Jesus gevange gehou het, het Hom bespot en geslaan.
64En hulle het Hom geblinddoek en Hom in die aangesig geslaan en Hom gevra en gesê: Profeteer wie dit is wat U geslaan het.
65En baie ander dinge het hulle lasterlik teen Hom gespreek.
66En toe dit dag word, het die oudstes van die volk—die owerpriesters en skrifgeleerdes—vergader en Hom voor hulle Raad gebring
67en gesê: As U die Christus is, sê vir ons. En Hy antwoord hulle: As Ek vir u sê, sal u tog nie glo nie.
68En as Ek vra, sal u My tog nie antwoord of loslaat nie.
69Van nou af sal die Seun van die mens sit aan die regterhand van die krag van God.
70En hulle sê almal: Is U dan die Seun van God? En Hy antwoord hulle: U sê dat Ek dit is.
71Daarop sê hulle: Wat het ons nog getuienis nodig! Want ons het dit self uit sy mond gehoor.