Psalms


Hoofstuk 3

1 ‘n Psalm van Dawid toe hy gevlug het vir sy seun Absalom. (3:2) o HERE, hoe het my teëstanders vermenigvuldig! Baie staan teen my op.
2 (3:3) Baie sê van my: Daar is geen heil vir hom by God nie. Sela.
3 (3:4) Maar U, HERE, is ‘n skild wat my beskut, my eer en die Een wat my hoof ophef.
4 (3:5) Luid roep ek die HERE aan, en Hy verhoor my van sy heilige berg. Sela.
5 (3:6) Ek het gaan lê en aan die slaap mag raak; ek het wakker geword, want die HERE ondersteun my.
6 (3:7) Ek sal nie vrees vir tien duisende van mense wat rondom teen my gereed staan nie.
7 (3:8) Staan op, HERE; verlos my, my God! Want U het al my vyande op die kakebeen geslaan; U het die tande van die goddelose stukkend gebreek.
8 (3:9) Die heil behoort aan die HERE; laat u seën wees oor u volk! Sela.