Psalms


Hoofstuk 19

1 Vir die musiekleier. ‘n Psalm van Dawid. (19:2) Die hemele vertel die eer van God, en die uitspansel verkondig die werk van sy hande.
2 (19:3) Die een dag stort vir die ander ‘n boodskap uit, en die een nag kondig vir die ander kennis aan:
3 (19:4) daar is geen spraak en daar is geen woorde nie—onhoorbaar is hulle stem.
4 (19:5) Hulle meetsnoer gaan uit oor die hele aarde, en hulle woorde tot by die einde van die wêreld. Vir die son het Hy daarin ‘n tent gemaak;
5 (19:6) en dié is soos ‘n bruidegom wat uitgaan uit sy slaapkamer; hy is bly soos ‘n held om die pad te loop.
6 (19:7) Sy uitgang is van die einde van die hemel af, en sy omloop tot by die eindes daarvan, en niks is verborge vir sy hitte nie.
7 (19:8) Die wet van die HERE is volmaak: dit verkwik die siel; die getuienis van die HERE is gewis: dit gee wysheid aan die eenvoudige.
8 (19:9) Die bevele van die HERE is reg: hulle verbly die hart; die gebod van die HERE is suiwer: dit verlig die oë.
9 (19:10) Die vrees van die HERE is rein: dit bestaan tot in ewigheid; die verordeninge van die HERE is waarheid—tesame is hulle regverdig.
10 (19:11) Hulle is begeerliker as goud, ja, as baie fyn goud; en soeter as heuning en heuningstroop.
11 (19:12) Ook word u kneg daardeur gewaarsku; in die onderhouding daarvan is groot loon.
12 (19:13) Die afdwalinge—wie bemerk hulle? Spreek my vry van die wat verborge is.
13 (19:14) Hou u kneg ook terug van moedswillige sondes; laat dit nie oor my heers nie. Dan sal ek onbestraflik wees en vry van groot oortreding.
14 (19:15) Laat die woorde van my mond en die oordenking van my hart welbehaaglik wees voor u aangesig, o HERE, my rots en my verlosser!