Psalms
Hoofstuk 132
1 ‘n Bedevaartslied. o HERE, dink aan Dawid, aan al sy moeite;
2 dat hy aan die HERE gesweer het, hierdie gelofte gedoen het aan die Magtige van Jakob:
3 Sekerlik sal ek nie ingaan in die tent van my woning of klim op die bed wat vir my gesprei is nie;
4 sekerlik sal ek my oë geen slaap gun, aan my ooglede geen sluimering nie,
5 totdat ek ‘n plek vind vir die HERE, ‘n woning vir die Magtige van Jakob!
6 Kyk, ons het daarvan gehoor in Éfrata; ons het dit gevind in die velde van Jaär.
7 Laat ons na sy woning gaan, ons neerbuig voor die voetbank van sy voete.
8 Staan op na u rusplek, HERE, U en die ark van u sterkte!
9 Laat u priesters bekleed wees met geregtigheid, en laat u gunsgenote jubel.
10 Wys u gesalfde nie af nie, ter wille van Dawid, u kneg.
11 Die HERE het aan Dawid gesweer in waarheid (Hy sal daarvan nie terugkom nie): Van die vrug van jou liggaam sal Ek laat sit op jou troon.
12 As jou seuns my verbond hou en my getuienisse wat Ek hulle leer, dan sal húlle seuns ook vir ewig op jou troon sit.
13 Want die HERE het Sion uitgekies, Hy het dit as woonplek vir Hom begeer en gesê:
14 Dit is my rusplek vir ewig; hier wil Ek woon, want Ek het dit begeer.
15 Sy voedsel sal Ek ryklik seën, sy behoeftiges versadig met brood;
16 en sy priesters sal Ek met heil beklee, en sy gunsgenote sal vrolik jubel.
17Daar sal Ek vir Dawid ‘n horing laat uitspruit; Ek het vir my gesalfde ‘n lamp toeberei.
18Ek sal sy vyande met skaamte beklee, maar op hom sal sy kroon skitter.