Matteus - Matthew
Hoofstuk 26
1 En toe Jesus al hierdie woorde geëindig het, sê Hy vir sy dissipels:
2 Julle weet dat oor twee dae die pasga kom, dan word die Seun van die mens oorgelewer om gekruisig te word.
3 Toe kom die owerpriesters en die skrifgeleerdes en die ouderlinge van die volk bymekaar in die paleis van die hoëpriester wat Kájafas genoem word,
4 en hou saam raad om Jesus met lis gevange te neem en om die lewe te bring.
5 Maar hulle het gesê: Nie op die fees nie, sodat daar nie miskien oproer onder die volk kom nie.
6 En toe Jesus in Betánië was in die huis van Simon, die melaatse,
7 kom ‘n vrou na Hom met ‘n albaste fles met baie kosbare salf, en sy gooi dit op sy hoof uit terwyl Hy aan tafel was.
8 En toe sy dissipels dit sien, was hulle verontwaardig en sê: Waarvoor is hierdie verkwisting?
9 Want hierdie salf kon duur verkoop en die geld aan die armes gegee geword het.
10 Maar toe Jesus dit merk, sê Hy vir hulle: Waarom val julle die vrou lastig? Want sy het ‘n goeie werk aan My gedoen.
11 Want die armes het julle altyd by julle, maar My het julle nie altyd nie.
12 Want toe sy hierdie salf op my liggaam uitgegooi het, het sy dit gedoen met die oog op my begrafnis.
13 Voorwaar Ek sê vir julle, oral waar hierdie evangelie verkondig sal word in die hele wêreld, sal ook gespreek word van wat sy gedoen het, tot ‘n gedagtenis aan haar.
14 Toe gaan een van die twaalf, met die naam van Judas Iskáriot, na die owerpriesters
15 en sê: Wat wil u my gee, en ek sal Hom aan u oorlewer? En hulle het vir hom dertig silwerstukke afgeweeg.
16 En van toe af het hy ‘n goeie geleentheid gesoek om Hom oor te lewer.
17En op die eerste dag van die ongesuurde brode kom die dissipels na Jesus en sê vir Hom: Waar wil U hê moet ons vir U klaarmaak om die pasga te eet?
18En Hy antwoord: Gaan na die stad na ‘n sekere iemand en sê vir hom: Die Meester laat weet: My tyd is naby. By jou sal Ek die pasga hou met my dissipels.
19Daarop het die dissipels gedoen soos Jesus hulle beveel het, en hulle het die pasga berei.
20En toe dit aand geword het, was Hy met die twaalf aan tafel.
21En terwyl hulle eet, sê Hy: Voorwaar Ek sê vir julle, een van julle sal My verraai.
22Toe word hulle baie bedroef en begin elkeen van hulle aan Hom te sê: Is dit miskien ek, Here?
23Toe antwoord Hy en sê: Hy wat saam met My sy hand in die skottel insteek, hy sal My verraai.
24Die Seun van die mens gaan wel heen soos daar van Hom geskrywe is, maar wee daardie man deur wie die Seun van die mens verraai word! Dit sou vir hom goed gewees het as daardie man nie gebore was nie.
25En Judas, wat Hom sou verraai, antwoord en sê: Is dit miskien ek, Rabbi? Hy antwoord hom: Jy het dit gesê.
26En terwyl hulle eet, neem Jesus die brood, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan sy dissipels en sê: Neem, eet, dit is my liggaam.
27Toe neem Hy die beker, en nadat Hy gedank het, gee Hy dit aan hulle en sê: Drink almal daaruit.
28Want dit is my bloed, die bloed van die nuwe testament, wat vir baie uitgestort word tot vergifnis van sondes.
29Maar Ek sê vir julle: Ek sal van nou af nooit meer van hierdie vrug van die wynstok drink nie, tot op daardie dag wanneer Ek dit met julle nuut sal drink in die koninkryk van my Vader.
30En nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle uitgegaan na die Olyfberg.
31Toe sê Jesus vir hulle: Julle sal almal in hierdie nag aanstoot neem aan My, want daar is geskrywe: Ek sal die herder slaan, en die skape van die kudde sal verstrooi word.
32Maar nadat Ek opgestaan het, sal Ek voor julle uit na Galiléa gaan.
33Daarop antwoord Petrus en sê vir Hom: Al sal almal ook aanstoot aan U neem, ek sal nooit aanstoot neem nie.
34Jesus sê vir hom: Voorwaar Ek sê vir jou, in hierdie nag, voordat die haan gekraai het, sal jy My drie maal verloën.
35Petrus sê vir Hom: Al moes ek ook saam met U sterwe, ek sal U nooit verloën nie! So het ook al die dissipels gesê.
36Toe kom Jesus met hulle in ‘n plek met die naam van Getsémané, en Hy sê vir die dissipels: Sit hier onderwyl Ek daar gaan bid.
37En Hy neem Petrus en die twee seuns van Sebedéüs saam en begin bedroef en benoud word.
38Toe sê Hy vir hulle: My siel is diep bedroef tot die dood toe; bly hier en waak saam met My.
39En Hy het ‘n bietjie verder gegaan en op sy aangesig geval en gebid en gesê: My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan; nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil.
40En Hy kom by die dissipels en vind hulle aan die slaap, en Hy sê vir Petrus: So was julle dan nie in staat om een uur saam met My te waak nie?
41Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak.
42Weer het Hy vir die tweede maal gaan bid en gesê: My Vader, as hierdie beker nie by My kan verbygaan sonder dat Ek dit drink nie, laat u wil geskied.
43Toe kom Hy en vind hulle weer aan die slaap, want hulle oë was swaar.
44En Hy het hulle met rus gelaat en weer vir die derde maal gaan bid en dieselfde woorde gesê.
45Daarop kom Hy by sy dissipels en sê vir hulle: Slaap maar voort en rus. Kyk, die uur is naby, en die Seun van die mens word oorgelewer in die hande van sondaars.
46Staan op, laat ons gaan; kyk, hy is naby wat My verraai.
47En terwyl Hy nog spreek, daar kom Judas, een van die twaalf, en saam met hom ‘n groot menigte met swaarde en stokke, gestuur deur die owerpriesters en ouderlinge van die volk.
48En sy verraaier het vir hulle ‘n teken gegee en gesê: Die een wat ek sal soen, dit is Hy, gryp Hom!
49En dadelik gaan hy na Jesus en sê: Gegroet, Rabbi! en hy het Hom gesoen.
50Maar Jesus sê vir hom: Vriend, waarvoor is jy hier? Toe kom hulle nader en slaan die hande aan Jesus en gryp Hom.
51En een van die wat saam met Jesus was, het meteens sy hand uitgesteek en sy swaard getrek; en hy het die dienskneg van die hoëpriester geslaan en sy oor afgekap.
52Toe sê Jesus vir hom: Sit jou swaard in sy plek terug; want almal wat die swaard neem, sal deur die swaard vergaan.
53Of dink jy dat Ek nie nou my Vader kan bid en Hy vir My meer as twaalf legioene van engele beskikbaar sal stel nie?
54Hoe sou die Skrifte dan vervul word dat dit so moet gebeur?
55In daardie uur het Jesus vir die skare gesê: Het julle soos teen ‘n rower uitgekom met swaarde en stokke om My gevange te neem? Dag vir dag het Ek by julle gesit en leer in die tempel, en julle het My nie gegryp nie.
56Maar dit het alles gebeur, dat die Skrifte van die profete vervul sou word. Toe het al die dissipels Hom verlaat en gevlug.
57En die wat Jesus gevange geneem het, het Hom weggelei na Kájafas, die hoëpriester, waar die skrifgeleerdes en die ouderlinge vergader het.
58En Petrus het Hom van ver af gevolg tot by die paleis van die hoëpriester, en hy het ingegaan en by die dienaars gaan sit om die einde te sien.
59En die owerpriesters en die ouderlinge en die hele Raad het valse getuienis teen Jesus gesoek om Hom dood te maak, en niks gevind nie.
60En alhoewel daar baie valse getuies gekom het, het hulle niks gevind nie.
61Maar oplaas kom daar twee valse getuies en sê: Hierdie man het gesê: Ek kan die tempel van God afbreek en dit in drie dae opbou.
62Daarop staan die hoëpriester op en sê vir Hom: Antwoord U niks nie? Wat getuig hierdie manne teen U?
63Maar Jesus het stilgebly. En die hoëpriester antwoord en sê vir Hom: Ek besweer U by die lewende God dat U vir ons sê of U die Christus, die Seun van God, is?
64Jesus antwoord hom: U het dit gesê. Maar Ek sê vir u almal: Van nou af sal u die Seun van die mens sien sit aan die regterhand van die krag van God en kom op die wolke van die hemel.
65Toe verskeur die hoëpriester sy klere en sê: Hy het godslasterlik gespreek, wat het ons nog getuies nodig? Kyk, nou het julle sy godslastering gehoor!
66Wat dink julle? En hulle antwoord en sê: Hy is die dood skuldig.
67Toe het hulle in sy aangesig gespuug en Hom met die vuis geslaan,
68en ander het Hom met stokke geslaan en gesê: Profeteer vir ons, Christus! Wie is dit wat U geslaan het?
69En Petrus het buitekant gesit in die binneplaas van die paleis, en ‘n sekere diensmeisie het na hom gekom en gesê: Jy was ook by Jesus, die Galiléër!
70Maar hy het dit voor almal ontken en gesê: Ek weet nie wat jy sê nie.
71En terwyl hy uitgaan na die poort toe, sien ‘n ander diensmeisie hom en sê aan die wat daar was: Hierdie een was ook by Jesus, die Nasaréner.
72En met ‘n eed ontken hy dit weer: Ek ken die man nie.
73Maar ‘n bietjie later kom die wat daar staan, en sê vir Petrus: Waarlik, jy is ook een van hulle, want ook jou spraak maak jou bekend.
74Toe begin hy homself te verwens en te sweer: Ek ken die man nie.
75En dadelik het die haan gekraai, en Petrus het die woord van Jesus onthou wat Hy vir hom gesê het: Voor die haan kraai, sal jy My drie maal verloën. En hy het buitentoe gegaan en bitterlik geween.