Matteus - Matthew
Hoofstuk 13
1 En op daardie dag het Jesus uit die huis uitgegaan en by die see gaan sit.
2 En groot menigtes het by Hom vergader, sodat Hy in ‘n skuit geklim en gaan sit het. En die hele skare het op die strand gestaan.
3 En Hy het baie dinge deur gelykenisse tot hulle gespreek en gesê: ‘n Saaier het uitgegaan om te saai;
4 en terwyl hy saai, val ‘n deel langs die pad, en die voëls het gekom en dit opgeëet.
5 En ‘n ander deel het op rotsagtige plekke geval waar daar nie baie grond was nie; en dadelik het dit opgekom, omdat daar geen diepte van grond was nie;
6 maar toe die son opgaan, is dit verskroei, en omdat dit geen wortel gehad het nie, het dit verdroog.
7 En ‘n ander deel het in die dorings geval, en die dorings het opgekom en dit verstik.
8 En ‘n ander deel het in die goeie grond geval en vrug opgelewer: die een honderd—, die ander sestig—, die ander dertigvoudig.
9 Wie ore het om te hoor, laat hom hoor!
10 En die dissipels het gekom en vir Hom gesê: Waarom spreek U tot hulle deur gelykenisse?
11 Toe antwoord Hy en sê vir hulle: Omdat dit aan julle gegee is om die verborgenhede van die koninkryk van die hemele te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie.
12 Want hy wat het, aan hom sal gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar hy wat nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy het.
13 Daarom spreek Ek tot hulle deur gelykenisse, omdat hulle, terwyl hulle sien, nie sien nie, en terwyl hulle hoor, nie hoor of verstaan nie.
14 En aan hulle word die profesie van Jesaja vervul wat sê: Met die gehoor sal julle hoor en glad nie verstaan nie, en julle sal kyk en kyk, en glad nie sien nie.
15 Want die hart van hierdie volk het stomp geword, en met die ore het hulle beswaarlik gehoor; en hul oë het hulle toegesluit, sodat hulle nie miskien met die oë sou sien en met die ore hoor en met die hart verstaan en hulle bekeer en Ek hulle genees nie.
16 Maar julle oë is gelukkig, omdat hulle sien; en julle ore, omdat hulle hoor.
17Want, voorwaar Ek sê vir julle, baie profete en regverdiges het begeer om te sien wat julle sien, en het dit nie gesien nie, en om te hoor wat julle hoor, en het dit nie gehoor nie.
18Luister julle dan na die gelykenis van die saaier.
19As iemand die woord van die koninkryk hoor en nie verstaan nie, kom die Bose en roof wat in sy hart gesaai is—dit is hy by wie langs die pad gesaai is.
20En by wie op rotsagtige plekke gesaai is—dit is hy wat die woord hoor en dit dadelik met blydskap aanneem;
21maar hy het geen wortel in homself nie, hy is net vir ‘n tyd, en as daar verdrukking en vervolging kom ter wille van die woord, struikel hy dadelik.
22En by wie in die dorings gesaai is—dit is hy wat die woord hoor, maar die sorg van hierdie wêreld en die verleiding van die rykdom verstik die woord, en hy word onvrugbaar.
23En by wie op die goeie grond gesaai is—dit is hy wat die woord hoor en verstaan, wat dan ook vrug dra en oplewer: die een honderd,die ander sestig—, die ander dertigvoudig.
24‘n Ander gelykenis het Hy hulle voorgehou en gesê: Die koninkryk van die hemele is soos ‘n man wat goeie saad in sy land gesaai het;
25maar terwyl die mense slaap, het sy vyand gekom en onkruid onder die koring gesaai en weggegaan.
26En toe die spruitjies opgeskiet en vrug gevorm het, toe verskyn die onkruid ook.
27En die diensknegte van die huisheer het gekom en vir hom gesê: Meneer, het u dan nie goeie saad in u land gesaai nie? Waar kry dit dan die onkruid vandaan?
28En hy antwoord hulle: ‘n Vyandige mens het dit gedoen. Toe sê die diensknegte vir hom: Wil u dan hê dat ons dit moet gaan bymekaarmaak?
29Maar hy antwoord: Nee, dat julle nie miskien, as julle die onkruid bymekaarmaak, die koring daarmee saam uittrek nie.
30Laat altwee saam groei tot die oes toe, en in die oestyd sal ek vir die maaiers sê: Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand, maar bring die koring bymekaar in my skuur.
31‘n Ander gelykenis het Hy hulle voorgehou en gesê: Die koninkryk van die hemele is soos ‘n mosterdsaad wat ‘n man neem en in sy land saai;
32wat wel die kleinste is van al die soorte saad, maar as dit gegroei het, groter is as die groentesoorte en ‘n boom word, sodat die voëls van die hemel kom en nes maak in sy takke.
33‘n Ander gelykenis het Hy hulle vertel: Die koninkryk van die hemele is soos suurdeeg wat ‘n vrou neem en in drie mate meel inwerk totdat dit heeltemal ingesuur is.
34Al hierdie dinge het Jesus deur gelykenisse vir die skare gesê, en sonder gelykenis het Hy vir hulle niks gesê nie;
35sodat vervul sou word die woord wat gespreek is deur die profeet: Ek sal my mond open deur gelykenisse; Ek sal uitspreek dinge wat verborge was van die grondlegging van die wêreld af.
36Nadat Hy die skare weggestuur het, het Jesus huis toe gegaan; en sy dissipels het na Hom gekom en gesê: Verklaar vir ons die gelykenis van die onkruid in die saailand.
37En Hy het geantwoord en vir hulle gesê: Hy wat die goeie saad saai, is die Seun van die mens,
38en die saailand is die wêreld. Die goeie saad—dit is die kinders van die koninkryk, en die onkruid is die kinders van die Bose,
39en die vyand wat dit gesaai het, is die duiwel. Die oes is die voleinding van die wêreld, en die maaiers is die engele.
40Net soos die onkruid dan bymekaargemaak en met vuur verbrand word, so sal dit wees in die voleinding van hierdie wêreld:
41die Seun van die mens sal sy engele uitstuur, en hulle sal uit sy koninkryk bymekaarmaak al die struikelblokke en die wat die ongeregtigheid doen,
42en sal hulle in die vuuroond gooi. Daar sal geween wees en gekners van die tande.
43Dan sal die regverdiges skyn soos die son in die koninkryk van hulle Vader. Wie ore het om te hoor, laat hom hoor.
44Verder is die koninkryk van die hemele soos ‘n skat wat verborge is in die saailand, wat ‘n man kry en wegsteek; en uit blydskap daaroor gaan hy en verkoop alles wat hy het, en koop daardie saailand.
45Verder is die koninkryk van die hemele soos ‘n koopman wat mooi pêrels soek;
46en toe hy een baie kosbare pêrel kry, gaan hy weg en verkoop alles wat hy het, en koop dit.
47Verder is die koninkryk van die hemele soos ‘n net wat in die see gegooi word en van elke soort bymekaarbring;
48en as dit vol geword het, trek hulle dit op die strand uit en gaan sit en maak die goeies in bakke bymekaar, maar gooi die slegtes weg.
49So sal dit wees in die voleinding van die wêreld: die engele sal uitgaan en die slegte mense onder die regverdiges uit afskei
50en hulle in die vuuroond gooi. Daar sal geween wees en gekners van die tande.
51Jesus sê vir hulle: Het julle ál hierdie dinge verstaan? Hulle antwoord Hom: Ja, Here!
52Toe sê Hy vir hulle: Daarom is elke skrifgeleerde wat ‘n leerling geword het in die koninkryk van die hemele, soos ‘n huisheer wat uit sy skat nuwe en ou dinge te voorskyn bring.
53En toe Jesus hierdie gelykenisse geëindig het, het Hy daarvandaan weggegaan.
54En Hy het in sy vaderstad gekom en hulle geleer in hul sinagoge, sodat hulle verslae was en gesê het: Waar kry Hy hierdie wysheid en kragte vandaan?
55Is Hy nie die seun van die timmerman nie? Is die naam van sy moeder nie Maria en dié van sy broers Jakobus en Joses en Simon en Judas nie?
56En sy susters, is hulle nie almal by ons nie? Waar kry Hy dan al hierdie dinge vandaan?
57En hulle het aanstoot aan Hom geneem. Maar Jesus sê vir hulle: ‘n Profeet is nie ongeëerd nie, behalwe in sy vaderland en in sy huis.
58En Hy het daar vanweë hulle ongeloof nie baie kragtige dade gedoen nie.