Job

Hoofstuk: 1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14 15 16 17 18 19 20 21 22 23 24 25 26 27 28 29 30 31 32 33 34 35 36 37 38 39 40 41 42


Hoofstuk 3

1 Daarna het Job sy mond oopgemaak en sy dag vervloek.
2 En Job het begin en gesê:
3 Mag die dag vergaan waarop ek gebore is, en die nag wat gesê het: ‘n Seun is ontvang.
4 Mag dié dag duisternis wees; mag God nie na hom vra daarbo nie en geen ligglans oor hom skyn nie.
5 Mag duisternis en doodskaduwee hom opeis, ‘n wolkgevaarte oor hom gaan lê, dagverduisteringe hom verskrik.
6 Daardie nag—mag donkerheid hom wegruk, mag hy nie bly wees onder die dae van die jaar, in die getal van die maande nie kom nie.
7 Ja, mag dié nag onvrugbaar wees, geen gejubel tot hom deurdring nie.
8 Mag die dagvervloekers hom verwens, hulle wat die kuns verstaan om die Leviátan op te hits.
9 Mag die sterre van sy môreskemering verduister word; mag hy wag op lig, maar tevergeefs, en die ooglede van die dageraad nie sien nie.
10 Omdat hy vir my nie toegesluit het die deure van die moederskoot nie en moeite vir my oë nie verberg het nie.
11 Waarom het ek nie gesterf by die geboorte, nie uitgegaan uit die moederskoot en die asem uitgeblaas nie?
12 Waarom het knieë my teëgekom, en waarom borste, dat ek moes drink?
13 Want dan sou ek daar gelê en stil gewees het; ek sou geslaap, ek sou dan rus gehad het,
14 saam met konings en raadsmanne van die aarde, wat puinhope weer opgebou het vir hulleself;
15 of saam met vorste wat goud besit, wat hulle huise met silwer gevul het.
16 Of ek sou, soos ‘n weggestopte misgeboorte, nie bestaan het nie, soos kinders wat die lig nie gesien het nie.
17Daar hou die goddelose op met woel, en daar rus hulle wie se kragte uitgeput is.
18Die gevangenes is almal saam gerus; hulle hoor die stem van die drywer nie.
19Klein en groot is daar gelyk, en die slaaf is vry van sy heer.
20Waarom gee Hy lig aan die ellendige en lewe aan die wat verbitterd is van siel;
21wat wag op die dood, en hy kom nie; en meer na hom grawe as na verborge skatte;
22wat bly sou wees met gejuig, hulle sou verheug as hulle die graf kon vind?
23Waarom gee Hy lig aan ‘n man wie se weg verborge is, ‘n man wat deur God aan alle kante ingesluit is?
24Want soos my brood kom my gesug, en my gebrul word uitgestort soos water.
25As ek iets vreesliks vrees, kom dit oor my; en die ding waarvoor ek bang is, kom na my toe.
26Ek het geen kalmte en geen stilte en geen rus nie, of daar kom die onrus!