Job
Hoofstuk 20
1 Toe het Sofar, die Naämatiet, geantwoord en gesê:
2 Daarom juis antwoord my gedagtes my, en wel weens my haastigheid in my.
3 ‘n Bestraffing wat vir my griewend is, moet ek aanhoor; maar die gees uit my verstand antwoord my.
4 Weet jy wel dit wat van altyd af was, vandat die mens op die aarde gemaak is:
5 dat die gejubel van die goddelose kort van duur is en die vreugde van die roekelose net vir ‘n oomblik?
6 Al klim sy hoogheid na die hemel toe op, en al raak sy hoof aan die wolke—
7 soos sy eie drek vergaan hy vir ewig; die wat hom gesien het, vra: Waar is hy?
8 Soos ‘n droom vlieg hy weg, sodat ‘n mens hom nie meer vind nie; en hy word verjaag soos ‘n naggesig.
9 Die oog wat hom gesien het, sien hom nie meer nie; en sy plek aanskou hom nie meer nie.
10 Sy kinders moet die guns soek van armes, en met eie hande moet hy sy vermoë teruggee.
11 Sy gebeente was vol van sy jeugdige krag; maar met hom saam lê dit in die stof.
12 Al smaak die kwaad soet in sy mond, al verberg hy dit onder sy tong,
13 al spaar hy dit, en al wil hy dit nie laat vaar nie, maar dit terughou in sy verhemelte—
14 tog word sy voedsel in sy ingewande verander, dit word gal van adders in sy binneste.
15 Rykdom het hy verslind, maar hy moet dit weer uitspuug; uit sy buik dryf God dit weg.
16 Die gif van adders suig hy in, die tong van ‘n slang maak hom dood.
17Hy mag hom nie verlustig in beke, in vloeiende strome van heuning en dikmelk nie.
18Wat hy deur arbeid verkry het, gee hy terug sonder om dit in te sluk; na die maat van sy ingeruilde rykdom sal hy nie bly wees nie.
19Want hy het die armes verdruk, aan hulle lot oorgelaat; ‘n huis het hy geroof, maar hy sal dit nie opbou nie.
20Want hy het geen rus geken in sy binneste nie; so sal hy dan nie ontsnap met sy kosbare goed nie.
21Niks het ontkom aan sy vraatsug nie; daarom is sy voorspoed nie duursaam nie.
22By die volheid van sy oorvloed sal hy benoud wees: al die hande van ellendiges oorval hom.
23Om sy buik te vul, sal Hy teen hom uitstuur sy toorngloed, en Hy sal dit op hom laat reën as sy voedsel.
24Hy sal vlug vir die ysterwapens—’n koperboog sal hom deurboor.
25Hy trek—daar kom dit uit sy rug, en die glinsterende swaard gaan uit sy gal; verskrikkinge is op hom!
26Pure duisternis is bewaar vir sy skatte; ‘n vuur wat nie deur mense aangeblaas is nie, verteer hom; dit wei af wat in sy tent oorbly.
27Die hemel openbaar sy ongeregtigheid, en die aarde staan teen hom op.
28Weggevoer word die opbrings van sy huis—goed wat wegspoel op die dag van sy toorn.
29Dit is die deel van die goddelose mens van die kant van God en die erfdeel wat vir hom bestem is deur God.