Deuteronomium - Deuteronomy
Hoofstuk 4
1 Luister dan nou, Israel, na die insettinge en die verordeninge wat ek julle leer om te doen, sodat julle mag lewe en inkom en die land wat die HERE, die God van julle vaders, aan julle sal gee, in besit mag neem.
2 Julle mag by die woord wat ek julle beveel, niks byvoeg nie, en julle mag daar niks van weglaat nie; sodat julle die gebooie van die HERE julle God mag onderhou, wat ek julle beveel.
3 Julle oë het gesien wat die HERE weens Baäl-Peor gedoen het; want al die manne wat agter Baäl-Peor aan geloop het, dié het die HERE jou God onder jou uit verdelg.
4 Julle daarenteen wat die HERE julle God aangehang het, is vandag nog almal in die lewe.
5 Kyk, ek het julle insettinge en verordeninge geleer soos die HERE my God my beveel het, om so te handel in die land waarheen julle gaan om dit in besit te neem.
6 Onderhou dit dan en doen dit; want dit is julle wysheid en julle verstand voor die oë van die volke wat al hierdie insettinge sal hoor en sê: Waarlik, hierdie groot nasie is ‘n wyse en verstandige volk.
7 Want watter groot nasie het gode wat vir hulle so naby is soos die HERE onse God so dikwels as ons Hom aanroep?
8 En watter groot nasie is daar wat sulke regverdige insettinge en verordeninge het soos hierdie hele wet wat ek julle vandag voorhou?
9 Neem jou net in ag en wees terdeë op jou hoede, dat jy die dinge nie vergeet wat jou oë gesien het nie, en dat hulle uit jou hart nie wyk al die dae van jou lewe nie; en jy moet dit aan jou kinders en jou kindskinders bekend maak:
10 die dag dat jy voor die aangesig van die HERE jou God by Horeb gestaan het, toe die HERE aan my gesê het: Vergader die volk vir My, en Ek sal hulle my woorde laat hoor, dat hulle kan leer om My te vrees al die dae wat hulle op die aarde lewe, en dit aan hulle kinders kan leer.
11 Toe het julle nader gekom en onder aan die berg gaan staan; en die berg het met vuur gebrand tot in die middel van die hemel, met duisternis, wolke en wolkedonkerheid.
12 En die HERE het met julle uit die vuur gespreek; julle het ‘n stem van woorde gehoor, maar geen verskyning gesien nie—net ‘n stem was daar.
13 Toe het Hy aan julle sy verbond verkondig wat Hy julle beveel het om te doen, die tien woorde, en dit op twee kliptafels geskrywe.
14 Ook het die HERE my in dié tyd bevel gegee om julle die insettinge en verordeninge te leer, dat julle dit kan doen in die land waarheen julle oortrek om dit in besit te neem.
15 Neem julle dan terdeë in ag ter wille van julle siele—want julle het géén verskyning gesien op die dag dat die HERE by Horeb uit die vuur met julle gespreek het nie—
16 sodat julle nie verderflik handel deurdat julle vir julle ‘n gesnede beeld, ‘n gelykenis van enige afgodsbeeld, maak nie: ‘n afbeelding van man of vrou,
17‘n afbeelding van enige dier wat op die aarde is, ‘n afbeelding van enige gevleuelde voël wat in die lug vlieg,
18‘n afbeelding van enigiets wat op die aarde kruip, ‘n afbeelding van enige vis wat in die water onder die aarde is;
19dat jy ook jou oë nie na die hemel opslaan, en as jy die son sien en die maan en die sterre, die hele leër van die hemel, jou laat verlei en voor hulle neerbuig en hulle dien nie—dinge wat die HERE jou God aan al die volke onder die hele hemel uitgedeel het.
20Maar die HERE het julle geneem en julle uit die yster-smeltoond, uit Egipte, uitgelei om sy erfvolk te wees soos dit vandag is.
21Ook was die HERE toornig op my om julle ontwil, en Hy het gesweer dat ek oor die Jordaan nie sal gaan en nie sal kom in die goeie land wat die HERE jou God jou as erfenis sal gee nie.
22Want ek sal in hierdie land sterwe, ek sal oor die Jordaan nie gaan nie; maar julle sal oorgaan en daardie goeie land in besit neem.
23Neem julle in ag dat julle die verbond van die HERE julle God, wat Hy met julle gesluit het, nie vergeet en vir julle geen gesnede beeld maak nie—’n gelykenis van enigiets wat die HERE jou God jou verbied het.
24Want die HERE jou God is ‘n verterende vuur, ‘n jaloerse God.
25As jy kinders en kindskinders sal verwek en julle in die land verouderd sal wees en verderflik handel deurdat julle ‘n gesnede beeld maak, ‘n gelykenis van enigiets, en doen u wat verkeerd is in die oë van die HERE jou God om Hom te terg,
26dan neem ek vandag die hemel en die aarde as getuies teen julle dat julle sekerlik gou uit die land sal vergaan waarheen julle oor die Jordaan trek om dit in besit te neem; julle sal die dae daarin nie verleng nie, maar sekerlik verdelg word.
27En die HERE sal julle onder die volke verstrooi, en ‘n klein klompie van julle sal onder die nasies oorbly waarheen die HERE julle sal drywe.
28En daar sal julle gode dien, die werk van mensehande, hout en klip wat nie sien en nie hoor en nie eet en nie ruik nie.
29Dan sal julle daarvandaan die HERE jou God soek en vind as jy Hom met jou hele hart en jou hele siel soek.
30As jy in die nood is en al hierdie dinge aan die einde van die dae oor jou kom, sal jy na die HERE jou God terugkeer en na sy stem luister.
31Want die HERE jou God is ‘n barmhartige God; Hy sal jou nie verlaat en jou nie in die verderf stort nie; en Hy sal die verbond van jou vaders wat Hy hulle besweer het, nie vergeet nie.
32Want doen tog ondersoek na die vorige dae wat voor jou gewees het, van die dag af dat God mense op die aarde geskape het, en van die een einde van die hemel tot by die ander einde van die hemel, of so iets groots gebeur het of iets dergeliks gehoor is.
33Het ‘n volk die stem van God uit die vuur hoor spreek, soos jy gehoor het, en in die lewe gebly?
34Of het ‘n god probeer om vir hom ‘n nasie uit ‘n ander nasie te gaan neem deur versoekinge, deur tekens en wonders en deur oorlog en deur ‘n sterke hand en ‘n uitgestrekte arm en deur groot skrikwekkende dade soos die HERE julle God met julle voor jou oë in Egipte gedoen het?
35Jy self het dit te sien gekry, dat jy kan weet dat die HERE God is; daar is geen ander buiten Hom nie.
36Uit die hemel het Hy jou sy stem laat hoor om jou te onderrig; en op die aarde het Hy jou sy groot vuur laat sien, en jy het sy woorde uit die vuur gehoor.
37En omdat Hy jou vaders liefgehad en hulle nageslag na hulle uitverkies het, en Hy self jou deur sy grote krag uit Egipte uitgelei het,
38om nasies groter en magtiger as jy voor jou uit te verdrywe en jou in te bring om hulle land aan jou as erfenis te gee soos dit vandag is—
39daarom moet jy vandag weet en ter harte neem dat die HERE God is, bo in die hemel en onder op die aarde; daar is geen ander nie.
40En jy moet sy insettinge en sy gebooie hou wat ek jou vandag beveel, dat dit met jou en jou kinders ná jou goed mag gaan, en dat jy die dae mag verleng in die land wat die HERE jou God jou vir altyd sal gee.
41Toe het Moses drie stede afgesonder oos van die Jordaan, teen sonop,
42sodat hy wat ‘n doodslag begaan het, daarheen kon vlug, wat sy naaste sonder opset doodgeslaan het, terwyl hy hom van gister en eergister af nie vyandig was nie; sodat hy in een van hierdie stede kan vlug en in die lewe bly.
43Beser in die woestyn, in die landstreek van die gelykveld, vir die Rubeniete; en Ramot in Gílead vir die Gadiete; en Golan in Basan vir die Manassiete.
44En dit is die wet wat Moses die kinders van Israel voorgehou het.
45Dit is die getuienisse en die insettinge en die verordeninge wat Moses meegedeel het aan die kinders van Israel by hulle uittog uit Egipte,
46oos van die Jordaan, in die dal teenoor Bet-Peor, in die land van Sihon, die koning van die Amoriete, wat in Hesbon gewoon het, wat deur Moses en die kinders van Israel verslaan is by hulle uittog uit Egipte;
47en hulle het sy land in besit geneem en die land van Og, die koning van Basan, die twee konings van die Amoriete oos van die Jordaan, teen sonop;
48van Aroër af, wat aan die kant van die Arnonrivier lê, tot by die berg Sion, dit is Hermon,
49en die hele Vlakte oos van die Jordaan, teen sonop tot by die See van die Vlakte, onderaan die hange van Pisga.