Deuteronomium - Deuteronomy
Hoofstuk 2
1 Daarna het ons gedraai en weggetrek na die woestyn, op pad na die Skelfsee, soos die HERE aan my gesê het, en ons het om die gebergte Seïr getrek, baie dae lank.
2 Toe het die HERE met my gespreek en gesê:
3 Julle het lank genoeg om hierdie gebergte getrek. Draai noordwaarts weg
4 en gee aan die volk bevel en sê: Julle gaan trek deur die grondgebied van julle broers die kinders van Esau wat in Seïr woon, en hulle sal vir julle vrees; pas dan goed op;
5 begeef julle nie in die oorlog teen hulle nie, want Ek sal julle van hulle land selfs nie ‘n voetbreed gee nie; want Ek het aan Esau die gebergte Seïr as ‘n besitting gegee.
6 Voedsel moet julle van hulle vir geld koop, dat julle kan eet; en julle moet ook water van hulle vir geld koop, dat julle kan drink.
7 Want die HERE jou God het jou geseën in al die werk van jou hand; Hy ken jou trek deur hierdie groot woestyn; nou veertig jaar lank was die HERE jou God met jou; geen ding het jou ontbreek nie.
8 Daarop het ons verder getrek, weg van ons broers, die kinders van Esau wat in Seïr woon, weg van die pad deur die Vlakte, weg van Elat en Éseon-Geber; ons het toe weggedraai en verder getrek op pad na die woestyn van Moab.
9 Toe het die HERE vir my gesê: Behandel Moab nie as vyand en begeef jou nie in die oorlog teen hulle nie; want Ek sal jou niks van sy land as besitting gee nie, omdat Ek Ar aan die kinders van Lot as ‘n besitting gegee het.
10 Die Emiete het tevore daarin gewoon, ‘n volk groot en talryk en hoog van gestalte soos die Enakiete.
11 Hulle word ook vir Refaïete gehou, soos die Enakiete; maar die Moabiete het hulle Emiete genoem.
12 Ook het die Horiete tevore in Seïr gewoon; maar die kinders van Esau het hulle uit hul besitting verdrywe en voor hulle uit verdelg en in hulle plek gaan woon, net soos Israel gedoen het met die land van sy besitting wat die HERE aan hulle gegee het.
13 Maak nou klaar en trek oor die spruit Sered. Toe het ons oor die spruit Sered getrek.
14 En die dae van ons trek van Kades-Barnéa af totdat ons oor die spruit Sered gegaan het, was agt en dertig jaar—totdat die hele geslag, die krygsmanne, uit die laer omgekom het soos die HERE hulle dit gesweer het.
15 So was die hand van die HERE dan ook teen hulle om hulle uit die laer te vernietig totdat hulle omgekom het.
16 En toe al die krygsmanne heeltemal onder die volk uit weggesterf het,
17het die HERE met my gespreek en gesê:
18Jy trek vandag die grens van Moab by Ar oor,
19en jy sal kom in die nabyheid van die kinders van Ammon; behandel hulle nie as vyande en begeef jou nie in die oorlog teen hulle nie; want Ek sal jou niks van die kinders van Ammon se land as besitting gee nie, omdat Ek dit aan die kinders van Lot as besitting gegee het.
20Dit word ook as ‘n land van Refaïete beskou; Refaïete het tevore daarin gewoon, en die Ammoniete het hulle Samsummiete genoem—
21‘n volk groot en talryk en hoog van gestalte soos die Enakiete—maar die HERE het dié voor hulle uit verdelg, sodat hulle dié uit hulle besitting verdryf en in hulle plek gaan woon het;
22soos Hy in die geval van die kinders van Esau gedoen het wat in Seïr woon, voor wie Hy die Horiete verdelg het, sodat hulle dié uit hulle besitting verdryf en in hulle plek gaan woon het tot vandag toe.
23Ook het die Kaftoriete wat uit Kaftor afkomstig was, die Awiete wat in dorpe tot by Gasa gewoon het, verdelg en in hulle plek gaan woon.
24Maak julle klaar, breek op en trek deur die Arnonrivier. Kyk, Ek gee Sihon, die koning van Hesbon, die Amoriet, en sy land in jou hand; begin om in besit te neem, en begeef jou in die oorlog teen hom.
25Vandag sal Ek begin om die skrik en die vrees vir jou op die volke onder die hele hemel te lê, sodat hulle, as hulle die tyding aangaande jou hoor, voor jou sal sidder en bewe van angs.
26Toe het ek boodskappers gestuur uit die woestyn Kedémot na Sihon, die koning van Hesbon, met woorde van vrede om te sê:
27Laat my deur jou land gaan; ek sal net padlangs trek; ek sal nie regs of links uitdraai nie.
28Voedsel moet jy my verkoop vir geld, dat ek kan eet; en water moet jy my gee vir geld, dat ek kan drink; laat my net te voet deurtrek—
29soos die kinders van Esau wat in Seïr woon, en die Moabiete wat in Ar woon, met my gedoen het—totdat ek deur die Jordaan trek in die land wat die HERE onse God aan ons sal gee.
30Maar Sihon, die koning van Hesbon, wou ons nie by hom laat deurtrek nie; want die HERE jou God het sy gees verhard en sy hart verstok, dat Hy hom in jou hand kon gee soos dit vandag is.
31En die HERE het vir my gesê: Kyk, Ek begin om Sihon en sy land aan jou oor te gee; begin om in besit te neem, om sy land in besit te neem.
32Toe het Sihon uitgetrek ons tegemoet, hy en sy hele volk, om te veg by Jahas.
33En die HERE onse God het hom aan ons oorgegee, sodat ons hom en sy seuns en sy hele volk verslaan het.
34En ons het in dié tyd al sy stede ingeneem en elke stad met die banvloek getref, manne en vroue en kinders; ons het niemand laat vryraak nie.
35Net die vee het ons vir ons geroof en die buit van die stede wat ons ingeneem het.
36Van Aroër af wat aan die kant van die Arnonrivier lê, en die stad in die dal, tot by Gílead was daar vir ons geen vesting onneembaar nie—die HERE onse God het alles aan ons oorgegee.
37Net naby die land van die kinders van Ammon het jy nie gekom nie: die hele kant van die Jabbokrivier en die stede van die gebergte en alles wat die HERE onse God verbied het.