Galasiërs - Galatians
Hoofstuk 3
1 o, Onverstandige Galásiërs, wie het julle betower om die waarheid nie gehoorsaam te wees nie, julle voor wie se oë Jesus Christus afgeskilder is as onder julle gekruisig?
2 Dit alleen wil ek van julle weet: het julle die Gees ontvang uit die werke van die wet of uit die prediking van die geloof?
3 Is julle so onverstandig? Nadat julle met die Gees begin het, eindig julle nou met die vlees?
4 Het julle verniet so baie gely? As dit maar verniet was!
5 Hy wat julle dan die Gees verleen en kragte onder julle werk, doen Hy dit uit die werke van die wet of uit die prediking van die geloof?
6 Net soos Abraham in God geglo het, en dit is hom tot geregtigheid gereken.
7 Julle verstaan dan dat die wat uit die geloof is, hulle is kinders van Abraham.
8 En die Skrif wat vooruit gesien het dat God die heidene uit die geloof sou regverdig, het vooraf aan Abraham die evangelie verkondig met die woorde: In jou sal al die volke geseën word.
9 Sodat die wat uit die geloof is, geseën word saam met die gelowige Abraham.
10 Want almal wat uit die werke van die wet is, is onder die vloek; want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat nie bly in alles wat geskryf is in die boek van die wet om dit te doen nie.
11 En dat niemand deur die wet by God geregverdig word nie, is duidelik; want die regverdige sal uit die geloof lewe.
12 Maar die wet is nie uit die geloof nie, maar die mens wat hierdie dinge doen, sal daardeur lewe.
13 Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons ‘n vloek te word—want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat aan ‘n hout hang—
14 sodat die seën van Abraham na die heidene kan kom in Christus Jesus, en dat ons die belofte van die Gees deur die geloof kan ontvang.
15 Broeders, ek spreek menslikerwys: selfs ‘n mens se testament wat bekragtig is, maak niemand tot niet of voeg daaraan toe nie.
16 Nou is aan Abraham die beloftes toegesê en aan sy saad. Hy sê nie: En aan die sade, asof dit op baie sien nie, maar op een: En aan jou saad, dit is Christus.
17Maar ek sê dít: die wet wat vier honderd en dertig jaar later gekom het, maak die verbond wat deur God in Christus vantevore bekragtig is, nie kragteloos om die belofte tot niet te maak nie.
18Want as die erfenis uit die wet is, dan is dit nie meer uit die belofte nie. Maar God het dit aan Abraham deur ‘n belofte genadiglik geskenk.
19Wat beteken die wet dan? Dit is bygevoeg weens die oortredinge, totdat die saad aan wie die belofte gedoen is, sou kom; en dit is deur engele beskik deur tussenkoms van ‘n middelaar.
20En die middelaar is nie net vir een nie; maar God is een.
21Is die wet dan teen die beloftes van God? Nee, stellig nie! Want as daar ‘n wet gegee was wat krag het om lewend te maak, dan sou die geregtigheid werklik uit die wet wees.
22Maar die Skrif het alles ingesluit onder die sonde, sodat die belofte uit die geloof in Jesus Christus aan die gelowiges gegee kon word.
23Maar voordat die geloof gekom het, is ons onder die wet in bewaring gehou, ingesluit met die oog op die geloof wat geopenbaar sou word.
24Die wet was dus ons tugmeester na Christus toe, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof.
25Maar nou dat die geloof gekom het, is ons nie meer onder ‘n tugmeester nie.
26Want julle is almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus;
27want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee.
28Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus.
29En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename.