Die handelinge van die apostels - Acts
Hoofstuk 8
1 En Saulus het ook sy vermoording goedgekeur. En daar het in dié tyd ‘n groot vervolging teen die gemeente in Jerusalem ontstaan, en almal is verstrooi oor die streke van Judéa en Samaría, behalwe die apostels.
2 En godvresende manne het Stéfanus begrawe en ‘n groot rou oor hom bedrywe.
3 Maar Saulus het die gemeente verwoes en in die huise gegaan en manne en vroue uitgesleep en in die gevangenis oorgelewer.
4 En die wat verstrooi was, het die land deurgegaan en die woord van die evangelie verkondig.
5 En Filippus het afgekom in ‘n stad van Samaría en Christus aan hulle verkondig.
6 En die skare het eendragtig ag gegee op die woorde van Filippus toe hulle dit hoor en die tekens sien wat hy doen.
7 Want uit baie van die wat onreine geeste gehad het, het die geeste uitgegaan terwyl hulle met ‘n groot stem skreeu; en baie wat lam en kreupel was, het gesond geword.
8 En daar was groot blydskap in daardie stad.
9 En ‘n sekere man met die naam van Simon het vantevore in die stad met towery omgegaan en die bevolking van Samaría verbyster deur te sê dat hy iets besonders was.
10 En almal, klein en groot, het hom aangehang en gesê: Hy is die groot krag van God.
11 En hulle het hom aangehang, omdat hy hulle ‘n geruime tyd deur sy towerye verbyster het.
12 Maar toe hulle Filippus geglo het, wat die evangelie aangaande die koninkryk van God en die Naam van Jesus Christus verkondig het, is hulle gedoop, manne sowel as vroue.
13 En Simon het ook self gelowig geword, en nadat hy gedoop was, gedurig by Filippus gebly; en hy was verbaas toe hy die tekens en groot kragte sien gebeur.
14 En toe die apostels in Jerusalem hoor dat Samaría die woord van God aangeneem het, het hulle Petrus en Johannes na hulle gestuur.
15 Húlle het afgekom en vir hulle gebid, dat hulle die Heilige Gees mag ontvang,
16 want Hy het toe nog op niemand van hulle geval nie, maar hulle was net gedoop in die Naam van die Here Jesus.
17Hulle het hul toe die hande opgelê, en hulle het die Heilige Gees ontvang.
18En toe Simon sien dat deur die handoplegging van die apostels die Heilige Gees gegee word, het hy hulle geld aangebied
19en gesê: Gee aan my ook hierdie mag, sodat elkeen wat ek die hande oplê, die Heilige Gees kan ontvang.
20Maar Petrus sê vir hom: Mag jou geld saam met jou vergaan, omdat jy gedink het om die gawe van God deur geld te verkry.
21Jy het geen deel of lot in hierdie saak nie, want jou hart is nie reg voor God nie.
22Bekeer jou dan van hierdie boosheid van jou, en bid God of die gedagte van jou hart jou miskien vergewe mag word.
23Want ek sien dat jy in ‘n gal van bitterheid en bande van ongeregtigheid is.
24Maar Simon het geantwoord en gesê: Bid julle tot die Here vir my, sodat niks van wat julle gesê het, oor my mag kom nie.
25Nadat hulle dan kragtig getuig en die woord van die Here gespreek het, het hulle na Jerusalem teruggegaan en die evangelie aan baie dorpe van die Samaritane verkondig.
26En ‘n engel van die Here het met Filippus gespreek en gesê: Staan op en gaan na die suide op die pad wat afloop van Jerusalem na Gasa. Dit is ‘n eensame pad.
27Toe het hy opgestaan en gegaan. En daar was ‘n man van Ethiópië, ‘n hofdienaar, ‘n staatsamptenaar van Kandacé, die koningin van die Ethiópiërs, wat oor al haar skatte was en na Jerusalem gekom het om te aanbid.
28En hy was op die terugreis en het op sy wa gesit en die profeet Jesaja gelees.
29Toe sê die Gees vir Filippus: Gaan daarheen en bly by daardie wa.
30En Filippus het daarheen gehardloop en hom die profeet Jesaja hoor lees; en hy sê: Verstaan u wel wat u lees?
31En hy antwoord: Hoe kan ek tog as niemand my die weg wys nie? Toe vra hy Filippus om op te klim en by hom te kom sit.
32En die gedeelte van die Skrif wat hy besig was om te lees, was dít: Soos ‘n skaap is Hy gelei om geslag te word, en soos ‘n lam wat stom is voor die een wat hom skeer, so maak Hy sy mond nie oop nie.
33In sy vernedering is sy oordeel weggeneem, en wie sal sy geslag beskrywe? Want sy lewe word van die aarde weggeneem.
34En die hofdienaar antwoord en sê vir Filippus: Ek bid u, van wie sê die profeet dit, van homself of van iemand anders?
35En Filippus het sy mond geopen en van hierdie Skrif af begin en die evangelie van Jesus aan hom verkondig.
36En terwyl hulle voortreis op die pad, kom hulle by water; en die hofdienaar sê vir hom: Daar is water; wat verhinder my om gedoop te word?
37Toe sê Filippus: As u glo met u hele hart, is dit geoorloof. En hy antwoord en sê: Ek glo dat Jesus Christus die Seun van God is.
38En hy het beveel dat die wa moes stilhou; en hulle het altwee in die water afgeklim, Filippus en die hofdienaar; en hy het hom gedoop.
39En toe hulle uit die water opklim, het die Gees van die Here Filippus skielik weggevoer, en die hofdienaar het hom nie meer gesien nie, want hy het sy weg met blydskap gereis.
40Maar Filippus is in Asdod gevind. En hy het die land deurgegaan en die evangelie verkondig in al die stede, totdat hy in Cesaréa gekom het.