Numeri - Numbers

Hoofstuk: 1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14 15 16 17 18 19 20 21 22 23 24 25 26 27 28 29 30 31 32 33 34 35 36


Hoofstuk 11

1 En die volk het hulle voor die ore van die HERE beklaag dat dit sleg gaan. En toe die HERE dit hoor, het sy toorn ontvlam, en die vuur van die HERE het onder hulle gebrand en het gewoed aan die kant van die laer.
2 Toe het die volk na Moses geroep, en Moses het tot die HERE gebid; en die vuur het doodgegaan.
3 Daarom het hulle die plek Tabéra genoem, omdat die vuur van die HERE onder hulle gebrand het.
4 En die gemengde bevolking wat onder hulle was, is met lus bevang. Toe het die kinders van Israel ook weer geween en gesê: Wie sal vir ons vleis gee om te eet?
5 Ons dink aan die visse wat ons in Egipte verniet kon eet, aan die komkommers en die waterlemoene en die prei en die uie en die knoffel.
6 Maar nou is ons siel dor; daar’s glad niks nie: net die manna is voor ons oë.
7 Die manna was soos koljandersaad, en dit het gelyk na balsemgom.
8 Die volk het rondgeloop en dit versamel en in handmeule gemaal of in vysels gestamp, en hulle het dit in potte gekook en daarvan roosterkoeke gemaak. En die smaak daarvan was soos die smaak van oliekoeke.
9 En as die dou snags op die laer val, het die manna ook daarop geval.
10 Toe het Moses die volk, volgens hulle geslagte, elkeen by die deur van sy tent hoor ween; en die toorn van die HERE het grootliks ontvlam; ook was dit verkeerd in die oë van Moses.
11 En Moses sê aan die HERE: Waarom het U u kneg kwaad aangedoen en waarom het ek geen genade in u oë gevind nie, dat U die las van hierdie hele volk op my lê?
12 Het ék hierdie hele volk dan ontvang? Of het ék hulle gebaar, dat U vir my sê: Dra hulle aan jou bors soos ‘n oppasser die suigling dra, na die land wat U aan hulle vaders met ‘n eed beloof het?
13 Waarvandaan moet ek vleis kry om aan al hierdie volk te gee? Want hulle ween by my en sê: Gee vir ons vleis, dat ons kan eet.
14 Ek alleen kan hierdie hele volk nie dra nie, want dit is vir my te swaar.
15 En as U so met my wil handel, slaan my dan maar liewer dood as ek genade in u oë gevind het, en laat ek my ongeluk nie aansien nie.
16 Toe sê die HERE aan Moses: Bring vir My sewentig manne uit die oudstes van Israel bymekaar, van wie jy weet dat hulle oudstes van die volk en sy opsigters is, en bring hulle by die tent van samekoms, dat hulle daar by jou kan staan.
17Dan sal Ek neerdaal en daar met jou spreek; en van die Gees wat op jou is, sal Ek afsonder en op hulle lê; en hulle sal jou help om die las van die volk te dra, sodat jy dit nie alleen hoef te dra nie.
18En aan die volk moet jy sê: Heilig julle teen môre; dan sal julle vleis eet. Want julle het voor die ore van die HERE geween en gesê: Wie sal vir ons vleis gee om te eet? want dit was vir ons goed in Egipte. Daarom sal die HERE vir julle vleis gee, en julle sal eet.
19Julle sal nie een dag of twee dae eet nie, of vyf dae of tien dae of twintig dae nie—
20‘n hele maand lank, totdat dit uit julle neus uitkom en julle daarvan walg; omdat julle die HERE wat in julle midde is, verwerp en voor sy aangesig gehuil en gesê het: Waarom het ons tog uit Egipte uitgetrek?
21Toe sê Moses: Ses honderd duisend te voet is die volk onder wie ek verkeer; en U het gesê: Ek sal aan hulle vleis gee, en hulle sal ‘n hele maand lank eet!
22Sal daar vir hulle kleinvee en beeste geslag word, sodat daar vir hulle genoeg sal wees? Of sal al die visse van die see vir hulle versamel word, sodat daar vir hulle genoeg is?
23Maar die HERE sê vir Moses: Sou die hand van die HERE te kort wees? Nou sal jy sien of my woord vir jou uitkom of nie.
24Toe het Moses uitgegaan en die woorde van die HERE aan die volk te kenne gegee; en hy het sewentig manne uit die oudstes van die volk bymekaar laat kom en hulle rondom die tent laat staan.
25Daarop het die HERE neergedaal in die wolk en met hom gespreek; en Hy het van die Gees wat op hom was, afgesonder en op die sewentig oudstes gelê. En terwyl die Gees op hulle rus, het hulle geprofeteer; maar daarna nie meer nie.
26Maar twee manne het in die laer agtergebly: die naam van die een was Eldad en die naam van die ander Medad; en die Gees het op hulle gerus—hulle het behoort by die wat opgeskrywe was, hoewel hulle nie na die tent uitgegaan het nie—en hulle het in die laer geprofeteer.
27Toe hardloop ‘n seun en vertel dit aan Moses en sê: Eldad en Medad profeteer in die laer.
28En Josua, die seun van Nun, die dienaar van Moses van sy jeug af, antwoord en sê: My heer Moses, belet hulle dit!
29Maar Moses sê vir hom: Ywer jy vir my? Ag, as die hele volk van die HERE maar profete was, dat die HERE sy Gees oor hulle mag gee!
30Daarop het Moses hom in die laer teruggetrek, hy en die oudstes van Israel.
31Toe het ‘n wind wat van die HERE kom, uitgevaar en kwartels van die see af oorgedrywe en op die laer gestrooi omtrent ‘n dagreis hier en omtrent ‘n dagreis daar, rondom die laer; en hulle was omtrent twee el bokant die grond.
32Toe het die volk opgestaan daardie hele dag en die hele nag en die hele volgende dag en die kwartels versamel. Hy wat die minste gehad het, het tien homer versamel. En hulle het dit oral vir hulle uitgesprei rondom die laer.
33Die vleis was nog tussen hulle tande, voordat dit gekou was, toe die toorn van die HERE alreeds teen die volk ontvlam het, en die HERE het onder die volk ‘n baie groot slagting teweeggebring.
34Daarom het hulle dié plek genoem Kibrot-Hattáäwa; want daar het hulle die volk begrawe wat so begerig was.
35Van Kibrot-Hattáäwa af het die volk weggetrek na Háserot toe, en hulle het in Háserot gebly.