Eksodus - Exodus
Hoofstuk 32
1 Toe die volk sien dat Moses vertoef om van die berg af te kom, het die volk rondom Aäron versamel en vir hom gesê: Kom, maak vir ons gode wat voor ons uit trek; want hierdie Moses, die man wat ons uit Egipteland laat optrek het, ons weet nie wat van hom geword het nie.
2 En Aäron sê vir hulle: Ruk die goue ringe af wat aan die ore van julle vroue, julle seuns en julle dogters is, en bring dit vir my.
3 Toe het die hele volk die goue ringe afgeruk wat aan hulle ore was, en dit na Aäron gebring.
4 En hy het dit uit hulle hand geneem en dit met die beitel bewerk en daar ‘n gegote kalf van gemaak. Daarop sê hulle: Dit is jou gode, o Israel, wat jou uit Egipteland laat optrek het.
5 Toe Aäron dit sien, het hy daarvoor ‘n altaar gebou. En Aäron het uitgeroep en gesê: Môre is daar fees tot eer van die HERE.
6 En hulle het die ander dag vroeg klaargemaak en brandoffers geoffer en dankoffers aangebring; daarop het die volk gaan sit om te eet en te drink, en hulle het opgestaan om te speel.
7 Toe sê die HERE vir Moses: Gaan heen, klim af, want jou volk wat jy uit Egipteland laat optrek het, het verderflik gehandel.
8 En hulle het gou van die weg afgewyk wat Ek hulle beveel het. Hulle het vir hulle ‘n gegote kalf gemaak en daarvoor neergebuig en daaraan geoffer en gesê: Dit is jou gode, o Israel, wat jou uit Egipteland laat optrek het.
9 Verder het die HERE vir Moses gesê: Ek het hierdie volk gesien, en kyk, dit is ‘n hardnekkige volk.
10 Laat My dan nou begaan, dat my toorn teen hulle ontvlam en Ek hulle verteer. Dan sal Ek jou tot ‘n groot nasie maak.
11 Maar Moses het die HERE sy God om genade gesmeek en gesê: Waarom, o HERE, sou u toorn ontvlam teen u volk wat U met grote krag en met ‘n sterke hand uit Egipteland uitgelei het?
12 Waarom sou die Egiptenaars spreek en sê: In kwaadwilligheid het Hy hulle uitgelei om hulle in die berge om te bring en hulle van die aardbodem af te vernietig? Wend U af van die gloed van u toorn, en laat dit U berou oor die onheil van u volk.
13 Gedenk aan Abraham, Isak en Israel, u knegte, vir wie U by Uself gesweer en aan wie U gesê het: Ek sal julle nageslag vermenigvuldig soos die sterre van die hemel, en hierdie hele land waarvan Ek gespreek het, sal Ek aan julle nageslag gee, dat hulle dit vir ewig kan beërwe.
14 Toe het dit die HERE berou oor die onheil wat Hy gesê het dat Hy sy volk sou aandoen.
15 En Moses het omgedraai en van die berg afgeklim, met die twee tafels van die Getuienis in sy hand, tafels wat op altwee kante beskrywe was; hulle was op die een en op die ander kant beskrywe.
16 En die tafels was die werk van God. Die skrif was ook die skrif van God, in die tafels gegraveer.
17En toe Josua die stem van die volk hoor hoe hulle juig, sê hy aan Moses: Daar is oorlogsgeraas in die laer.
18Maar hy antwoord: Dit is nie die geluid van die wat sing van oorwinning nie; dit is ook nie die geluid van die wat sing van neerlaag nie: ek hoor die geluid van beurtgesang.
19En toe hy naby die laer kom en die kalf en koordanse sien, het die toorn van Moses ontvlam, en hy het die tafels uit sy hande gegooi en hulle onder aan die berg verbrysel.
20En hy het die kalf geneem wat hulle gemaak het, en dit in die vuur verbrand en dit fyn gemaal. Toe het hy dit op die water gestrooi en die kinders van Israel dit laat drink.
21En Moses het vir Aäron gesê: Wat het hierdie volk jou gedoen, dat jy so ‘n groot sonde oor hulle gebring het?
22Toe antwoord Aäron: Laat die toorn van my heer nie ontvlam nie. U self ken die volk, dat hulle deur en deur sleg is.
23Hulle het dan aan my gesê: Maak vir ons gode wat voor ons uit trek, want hierdie Moses, die man wat ons uit Egipteland laat optrek het, ons weet nie wat van hom geword het nie.
24Daarop het ek hulle geantwoord: Wie goud het, laat dié dit afruk! En hulle het dit aan my gegee. En ek het dit in die vuur gegooi, en hierdie kalf het daaruit gekom.
25Toe Moses sien dat die volk bandeloos was—want Aäron het hulle bandeloos laat word tot leedvermaak onder hulle teëstanders—
26het Moses in die poort van die laer gaan staan en gesê: Wie vír die HERE is, kom na my toe! Toe het al die seuns van Levi by hom versamel.
27En hy het vir hulle gesê: So spreek die HERE, die God van Israel: Laat elkeen sy swaard aangord aan sy heup. Gaan heen en weer van poort tot poort in die laer, en laat elkeen sy broer en elkeen sy vriend en elkeen sy naaste doodmaak.
28En die seuns van Levi het gehandel volgens die woord van Moses, en daar het van die volk op dié dag omtrent drie duisend man geval.
29Toe het Moses gesê: Vul vandag julle hand om te offer aan die HERE—want elkeen is teen sy seun en teen sy broer—sodat Hy vandag ‘n seën oor julle kan gee.
30En die volgende dag het Moses aan die volk gesê: Júlle het ‘n groot sonde begaan; maar nou sal ek na die HERE opklim: miskien kan ek vir julle sonde versoening doen.
31En Moses het na die HERE teruggegaan en gesê: Ag, hierdie volk het ‘n groot sonde begaan en vir hulle goue gode gemaak.
32Nou dan, as U tog maar hulle sonde wou vergewe! En so nie, delg my dan maar uit u boek wat U geskryf het!
33Toe het die HERE Moses geantwoord: Wie teen My gesondig het, dié sal Ek uitdelg uit my boek.
34Maar gaan nou en lei die volk waarheen Ek jou gesê het. Kyk, my engel sal voor jou uit gaan. Maar die dag as Ek besoeking doen, dan sal Ek hulle sonde oor hulle besoek.
35So het die HERE dan die volk getref, omdat hulle die kalf gemaak het wat Aäron vervaardig het.