Joël - Joel

Hoofstuk: 1 2 3


Hoofstuk 1

1 Die woord van die HERE wat tot Joël, die seun van Pétuel, gekom het.
2 Hoor dit, o oudstes, en luister, alle inwoners van die land! Het so iets ooit in julle dae of in die dae van julle vaders plaasgevind?
3 Vertel daarvan aan julle kinders, en julle kinders aan hulle kinders, en húlle kinders aan die volgende geslag:
4 Wat die afknyper laat oorbly het, het die treksprinkaan verslind; en wat die treksprinkaan laat oorbly het, het die voetganger verslind; en wat die voetganger laat oorbly het, het die kaalvreter verslind.
5 Word wakker, julle dronkaards, en ween! En huil, al julle wyndrinkers! Oor die mos, omdat dit van julle mond weggeruk is.
6 Want ‘n sterk en ontelbare nasie het opgetrek oor my land; sy tande is leeutande, en dit kan byt soos ‘n leeuin.
7 Dit het my wingerdstok verwoes en my vyeboom versplinter; dit het ál sy bas afgeskil en weggegooi; die lote daarvan het wit geword.
8 Weeklaag soos ‘n jonkvrou wat oor die bruidegom van haar jeug met ‘n roukleed omgord is.
9 Spysoffer en drankoffer is ontruk aan die huis van die HERE; die priesters, die dienaars van die HERE, treur.
10 Die veld is verwoes, die akkerland treur; want die koring is verwoes, die mos het weggedroog, die olie het verdwyn.
11 Die landbouers staan beskaamd, die wynboere weeklaag oor die koring en oor die gars, omdat die oes op die land verlore is.
12 Die wingerdstok het verdor, en die vyeboom het verwelk; die granaat, ook die palm en die appelboom, al die bome van die land het verdor; want beskaamd is die vreugde, weg van die mensekinders af.
13 Omgord julle en klaag, o priesters! Huil, dienaars van die altaar! Kom, vernag in rouklere, dienaars van my God! Want die spysoffer en die drankoffer is geweer van die huis van julle God.
14 Heilig ‘n vasdag, roep ‘n vergadering saam! Versamel die oudstes, alle inwoners van die land in die huis van die HERE julle God, en roep tot die HERE.
15 Ag, die dag! Want naby is die dag van die HERE, en hy kom soos ‘n verwoesting van die Almagtige.
16 Is die spys nie weggeruk voor ons oë nie, blydskap en gejuig weg uit die huis van onse God?
17Die graankorrels het weggekrimp onder hulle kluite, die voorraadkamers is verwoes, die graanbakke afgebreek, want die koring het verdor.
18Hoe sug die vee! Die troppe beeste is onrustig, want daar is geen weiveld vir hulle nie; ook die troppe kleinvee moet boet.
19Tot U, o HERE, roep ek, want ‘n vuur het die weivelde van die woestyn verteer, en ‘n vlam het al die bome van die veld aan die brand gesteek.
20Selfs die diere van die veld smag na U; want die waterstrome het opgedroog, en ‘n vuur het die weivelde van die woestyn verteer.