Jesaja - Isaiah


Hoofstuk 1

1 Die gesig van Jesaja, die seun van Amos, wat hy gesien het met betrekking tot Juda en Jerusalem, in die dae van Ussía, Jotam, Agas en Hiskía, die konings van Juda.
2 Hoor, o hemele, en luister, o aarde, want die HERE spreek: Ek het kinders grootgemaak en verhoog, maar húlle het teen My oortree.
3 ‘n Os ken sy besitter en ‘n esel die krip van sy eienaar, maar Israel het geen kennis nie, my volk verstaan nie.
4 Wee die sondige nasie, die volk swaar van skuld, die geslag van kwaaddoeners, die kinders wat verderflik handel! Hulle het die HERE verlaat, die Heilige van Israel verag, hulle het agtertoe weggedraai.
5 Waar wil julle nog geslaan word, dat julle voortgaan met af te wyk? Die hele hoof is siek, en die hele hart is krank.
6 Van die voetsool af tot die hoof toe is daar geen heel plek aan nie, maar wonde en kwesplekke en vars houe! Hulle is nie uitgedruk of verbind of met olie versag nie.
7 Julle land is ‘n wildernis, julle stede is met vuur verbrand, vreemdes verteer julle landerye in jul teenwoordigheid, en dit is ‘n wildernis soos by ‘n omkering deur vreemdes.
8 En die dogter van Sion het oorgebly soos ‘n skermpie in ‘n wingerd, soos ‘n slaapplekkie in ‘n komkommertuin, soos ‘n beleërde stad.
9 As die HERE van die leërskare vir ons nie ‘n klein oorblyfsel oorgelaat het nie—soos Sodom sou ons geword het, ons sou net soos Gomorra gewees het.
10 Hoor die woord van die HERE, owerstes van Sodom! Luister na die wet van onse God, volk van Gomorra!
11 Wat het Ek aan die menigte van julle slagoffers? sê die HERE. Ek is sat van die brandoffers van ramme en die vet van vetgemaakte kalwers; en Ek het geen behae in die bloed van stiere of lammers of bokke nie.
12 As julle kom om voor my aangesig te verskyn, wie het dit van julle hand geëis—om my voorhowe te vertrap?
13 Bring nie meer skynheilige offergawes nie; gruwelike reukwerk is dit vir My. Nuwemane en sabbatte, die uitroep van samekomste—Ek verdra geen ongeregtigheid en feestyd nie!
14 Julle nuwemane en julle feestye haat my siel; hulle is My ‘n oorlas. Ek is moeg om dit te dra.
15 En as julle jul hande uitbrei, bedek Ek my oë vir julle; ook as julle die gebed vermenigvuldig, luister Ek nie: julle hande is vol bloed.
16 Was julle, reinig julle, neem die boosheid van julle handelinge voor my oë weg, hou op om kwaad te doen,
17leer om goed te doen, soek die reg, beteuel die verdrukker, doen reg aan die wees, verdedig die saak van die weduwee.
18Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die HERE: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol.
19As julle gewillig is en luister, sal julle die goeie van die land eet.
20Maar as julle weier en wederstrewig is, sal julle deur die swaard geëet word; want die mond van die HERE het dit gespreek.
21Ag, hoe het die getroue vesting ‘n hoer geword! Dit was vol reg, geregtigheid het daarin vernag—en nou moordenaars!
22Jou silwer het skuim geword; jou wyn is vervals met water.
23Jou vorste is opstandelinge en metgeselle van diewe; elkeen van hulle het omkoopgeskenke lief en jaag beloninge na. Aan die wees doen hulle geen reg nie, en die saak van die weduwee kom nie voor hulle nie.
24Daarom spreek die Here HERE van die leërskare, die Magtige van Israel: o Wee, Ek sal vir My voldoening verskaf van my teëstanders en My wreek op my vyande!
25En Ek sal my hand teen jou uitstrek en jou skuim soos met loog uitsuiwer en al jou looddele wegneem.
26En Ek sal jou weer regters gee soos vroeër en raadsmanne soos in die begin; daarna sal jy ‘n stad van geregtigheid, ‘n getroue vesting genoem word.
27Sion sal deur strafgerig verlos word en die van hom wat terugkeer, deur geregtigheid.
28Maar daar sal verbreking wees van die oortreders en die sondaars almal saam; en die wat die HERE verlaat, sal omkom.
29Want hulle sal in die skande kom weens die terpentynbome waar julle behae in het, en julle sal rooi van skaamte word oor die tuine wat julle verkies het.
30Want julle sal wees soos ‘n terpentynboom waarvan die blare verdor, en soos ‘n tuin wat geen water het nie.
31En die sterke word tot vlas en sy werk tot ‘n vonk, en hulle sal altwee tesame brand sonder dat iemand uitblus.