1 Konings - 1 Kings

Hoofstuk: 1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14 15 16 17 18 19 20 21 22


Hoofstuk 1

1 Toe koning Dawid oud en ver op sy dae was, het hulle hom met komberse toegemaak, maar hy kon nie warm word nie.
2 En sy dienaars sê aan hom: Laat hulle vir my heer die koning ‘n jongmeisie soek, dat sy voor die koning kan staan en vir hom ‘n verpleegster wees en in u skoot lê; dan sal my heer die koning warm word.
3 Hulle het toe in die hele grondgebied van Israel ‘n mooi meisie gesoek en Abísag, die Sunamitiese, gevind en haar by die koning gebring.
4 En die meisie was besonder mooi, en sy was vir die koning ‘n verpleegster en het hom bedien; maar die koning het geen gemeenskap met haar gehad nie.
5 Intussen was Adónia, die seun van Haggit, so vermetel om te dink: Ek sal koning word! En hy het vir hom waens en perderuiters aangeskaf en vyftig man wat voor hom uit loop.
6 En sy vader het hom sy lewe lank nie gekrenk deur te sê nie: Waarom maak jy so? Bowendien was hy ook baie mooi van gestalte, en sy moeder het hom ná Absalom gebaar.
7 En hy het met Joab, die seun van Serúja, onderhandel en met Abjatar, die priester, sodat hulle gehelp het as volgelinge van Adónia.
8 Maar Sadok, die priester, en Benája, die seun van Jójada, en Natan, die profeet, en Símeï en Reï en die helde van Dawid het nie met Adónia saamgegaan nie.
9 En Adónia het kleinvee en beeste en vetgemaakte vee geslag by die klip Sohélet wat langs die fontein Rogel staan, en al sy broers, die seuns van die koning, en al die manne van Juda, die dienaars van die koning, genooi;
10 maar Natan, die profeet, en Benája en die helde en sy broer Salomo het hy nie genooi nie.
11 Toe sê Natan vir Bátseba, die moeder van Salomo: Het u nie gehoor dat Adónia, die seun van Haggit, koning geword het sonder dat ons heer Dawid dit weet nie?
12 Kom dan nou, laat ek u tog ‘n raad gee, dat u u lewe en die lewe van u seun Salomo kan red.
13 Gaan en tree binne by koning Dawid en sê vir hom: Het ú nie, my heer die koning, vir u dienares gesweer en gesê nie: U seun Salomo sal sekerlik koning word ná my, en hy sal op my troon sit? Waarom het Adónia dan koning geword?
14 Kyk, terwyl u daar nog met die koning spreek, sal ék agter u inkom en u woorde aanvul.
15 Daarop het Bátseba ingegaan na die koning in die kamer, terwyl die koning baie oud was en Abísag, die Sunamitiese, die koning bedien.
16 En Bátseba het gebuig en neergeval voor die koning. Toe sê die koning: Wat wil u hê?
17En sy antwoord hom: My heer, ú het by die HERE u God vir u dienares gesweer: U seun Salomo sal sekerlik ná my koning word, en hy sal op my troon sit.
18Maar kyk, nou het Adónia koning geword sonder dat u, my heer die koning, dit weet.
19Want hy het beeste en vetgemaakte vee en kleinvee in menigte geslag en al die seuns van die koning en Abjatar, die priester, en Joab, die leërowerste, genooi; maar u dienaar Salomo het hy nie genooi nie.
20Maar op ú, my heer die koning, is die oë van die hele Israel om hulle te kenne te gee wie op die troon van my heer die koning ná hom sal sit.
21Anders sal dit gebeur, sodra my heer die koning met sy vaders ontslaap het, dat ek en my seun Salomo vir misdadigers gehou sal word.
22En kyk, terwyl sy nog met die koning spreek, kom die profeet Natan in.
23En hulle het dit die koning te kenne gegee en gesê: Daar is Natan, die profeet. Toe kom hy voor die koning en buig hom voor die koning met sy aangesig na die aarde toe.
24En Natan sê: My heer die koning, het ú gesê: Adónia sal ná my koning word, en hy sal op my troon sit?
25Want hy het vandag gegaan en beeste en vetgemaakte vee en kleinvee in menigte geslag en al die seuns van die koning en die leërowerstes en Abjatar, die priester, genooi, en kyk, hulle eet en drink voor hom en sê: Mag koning Adónia lewe!
26Maar my, u dienaar, en Sadok, die priester, en Benája, die seun van Jójada, en Salomo, u dienaar, het hy nie genooi nie.
27As hierdie saak van my heer die koning uitgegaan het, dan het u aan u dienaars nie bekend gemaak wie op die troon van my heer die koning ná hom sal sit nie.
28Daarop antwoord koning Dawid en sê: Roep Bátseba vir my! En sy het ingekom voor die koning en voor die koning gaan staan.
29Toe sweer die koning en sê: So waar as die HERE leef wat my uit alle benoudheid verlos het,
30sekerlik, soos ek u by die HERE, die God van Israel, gesweer en gesê het dat u seun Salomo ná my koning moet word en hy op my troon moet sit in my plek, sekerlik so doen ek vandag nog.
31En Bátseba het met die aangesig na die aarde gebuig en voor die koning neergeval en gesê: Mag my heer die koning Dawid vir ewig lewe!
32Verder het koning Dawid gesê: Roep vir my Sadok, die priester, en Natan, die profeet, en Benája, die seun van Jójada. Toe kom hulle in voor die koning,
33en die koning sê vir hulle: Neem die dienaars van julle heer met julle saam en laat my seun Salomo op my eie muil ry, en bring hom af na Gihon toe;
34en laat Sadok, die priester, en Natan, die profeet, hom daar as koning oor Israel salf, en julle moet op die ramshoring blaas en sê: Mag koning Salomo lewe!
35Dan moet julle agter hom optrek, dat hy kan inkom en op my troon sit; want hy moet koning wees in my plek, en ek het hom aangestel om ‘n vors oor Israel en Juda te wees.
36Toe antwoord Benája, die seun van Jójada, die koning en sê: Amen! Mag die HERE, die God van my heer die koning, ook so sê.
37Soos die HERE met my heer die koning was, mag Hy so met Salomo wees; en mag Hy sy troon groter maak as die troon van my heer die koning Dawid.
38Toe het Sadok, die priester, afgegaan saam met Natan, die profeet, en Benája, die seun van Jójada, en die Kreti en die Pleti, en hulle het Salomo laat ry op die muil van koning Dawid en hom na Gihon gebring.
39En die priester Sadok het die horing met olie uit die tent geneem en Salomo gesalf, en hulle het op die ramshoring geblaas, en die hele volk het gesê: Mag koning Salomo lewe!
40Toe gaan die hele volk op agter hom aan, terwyl die volk op fluite speel en hulle verheug met groot blydskap, sodat die aarde geskeur het van hulle geluid.
41En Adónia het dit gehoor en al die genooides wat by hom was, toe hulle net klaar geëet het; Joab het ook die geluid van die ramshoring gehoor en gesê: Waarom is die geluid van die stad rumoerig?
42Terwyl hy nog spreek, kom Jónatan, die seun van die priester Abjatar, daar aan; en Adónia sê: Kom in, want jy is ‘n wakker man en bring ‘n goeie boodskap.
43Maar Jónatan antwoord Adónia en sê: Ja, maar ons heer die koning Dawid het Salomo koning gemaak!
44En die koning het Sadok, die priester, en Natan, die profeet, en Benája, die seun van Jójada, en die Kreti en die Pleti met hom saam gestuur, en hulle het hom op die koning se muil laat ry;
45en Sadok, die priester, en Natan, die profeet, het hom in Gihon as koning gesalf, en daarvandaan het hulle met blydskap opgetrek, sodat die stad opgewonde geraak het; dit is die geluid wat julle gehoor het.
46En ook het Salomo op die koninklike troon gaan sit.
47Bowendien het die dienaars van die koning gekom om ons heer die koning Dawid geluk te wens met die woorde: Mag u God die naam van Salomo beter maak as u naam en sy troon groter maak as u troon. Toe het die koning op die bed aanbid;
48en die koning het ook so gesê: Geseënd is die HERE, die God van Israel, wat vandag gegee het dat een op my troon sit terwyl my oë dit sien.
49Daarop het al die genooides wat by Adónia was, verskrik opgestaan en elkeen sy pad gegaan.
50Maar Adónia was bevrees vir Salomo en het opgestaan en heengegaan en die horings van die altaar vasgehou.
51Toe is daar aan Salomo meegedeel en gesê: Kyk, Adónia is bevrees vir koning Salomo; en kyk, hy hou die horings van die altaar vas en sê: Laat koning Salomo eers vir my sweer dat hy sy dienaar nie met die swaard sal ombring nie.
52Daarop sê Salomo: As hy ‘n betroubare man sal wees, sal geen haar van hom op die aarde val nie; maar as daar kwaad in hom gevind word, moet hy sterwe.
53En koning Salomo het gestuur, en hulle het hom van die altaar afgebring, en hy het ingekom en hom voor koning Salomo neergebuig. En Salomo het vir hom gesê: Gaan na jou huis.