1 Samuel

Hoofstuk: 1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14 15 16 17 18 19 20 21 22 23 24 25 26 27 28 29 30 31


Hoofstuk 1

1 Daar was ‘n sekere man uit Ramatáim, ‘n Sufiet, uit die gebergte van Efraim, en sy naam was Élkana, die seun van Jeróham, die seun van Elíhu, die seun van Tohu, die seun van Suf, ‘n Efratiet.
2 En hy het twee vroue gehad; die naam van die een was Hanna, en die naam van die tweede was Peninna; en Peninna het kinders gehad, maar Hanna het geen kinders gehad nie.
3 En dié man het van jaar tot jaar opgegaan uit sy stad om te aanbid en aan die HERE van die leërskare te offer in Silo, waar die twee seuns van Eli, Hofni en Pínehas, priesters van die HERE was.
4 En op ‘n dag het Élkana geoffer en aan sy vrou Peninna en al haar seuns en haar dogters dele van die offervleis gegee;
5 maar aan Hanna het hy ‘n dubbele deel gegee; want hy het Hanna liefgehad; maar die HERE het haar moederskoot toegesluit.
6 En haar mededingster het haar ook bitterlik geterg om haar te vertoorn, omdat die HERE haar moederskoot toegesluit het.
7 So het hy gedoen van jaar tot jaar, telkens as sy opgaan in die huis van die HERE. Só het sy haar geterg, dat sy geween het en nie wou eet nie.
8 En haar man Élkana sê vir haar: Hanna, waarom ween jy? en waarom eet jy nie? en waarom is jou hart bedroef? Is ek vir jou nie beter as tien seuns nie?
9 Toe staan Hanna op nadat hulle geëet en nadat hulle gedrink het in Silo, terwyl die priester Eli op die stoel sit by die deurpos van die tempel van die HERE.
10 En bitter bedroef het sy tot die HERE gebid en bitterlik geween;
11 en sy het ‘n gelofte gedoen en gesê: HERE van die leërskare, as U waarlik die ellende van u diensmaagd aansien en aan my dink en u diensmaagd nie vergeet nie, maar u diensmaagd ‘n manlike kind skenk, dan sal ek hom aan die HERE gee al die dae van sy lewe; en geen skeermes sal op sy hoof kom nie.
12 En toe sy lank gebid het voor die aangesig van die HERE en Eli op haar mond ag gee—
13 want Hanna het in haar hart gespreek: net haar lippe het geroer, maar haar stem kon nie gehoor word nie—het Eli gedink dat sy dronk was.
14 En Eli sê vir haar: Hoe lank wil jy jou soos ‘n dronk mens gedra? Sit jou wyn van jou af weg.
15 Maar Hanna antwoord en sê: Nee, my heer, ek is ‘n vrou beswaard in my gemoed: wyn of sterk drank het ek nie gedrink nie, maar ek het my siel voor die aangesig van die HERE uitgestort.
16 Hou tog nie u dienares vir ‘n deugniet nie, want vanweë my baie sorge en verdriet het ek tot nou toe gespreek.
17En Eli antwoord en sê: Gaan in vrede, en mag die God van Israel jou bede gee wat jy van Hom gebid het.
18Daarop sê sy: Mag u dienares guns in u oë vind. Die vrou het toe daar weggegaan, en sy het geëet en haar aangesig was anders.
19Toe het hulle die môre vroeg klaargemaak en voor die aangesig van die HERE aanbid en teruggegaan en by hulle huis in Rama gekom; en Élkana het sy vrou Hanna beken, en die HERE het aan haar gedink.
20En by die wisseling van die jaar het Hanna, wat swanger was, ‘n seun gebaar en hom Samuel genoem; want, het sy gesê, ek het hom van die HERE gebid.
21Toe die man Élkana dan met sy hele huisgesin opgaan om aan die HERE die jaarlikse offer en sy gelofte-offer te bring,
22het Hanna nie opgegaan nie; maar sy het aan haar man gesê: Eers wanneer die seun gespeen is, sal ek hom bring, dat hy kan verskyn voor die aangesig van die HERE en daar vir altyd bly.
23En haar man Élkana het aan haar gesê: Doen wat goed is in jou oë, bly totdat jy hom gespeen het; mag die HERE net sy woord bevestig. Die vrou het toe gebly en haar seun gesoog totdat sy hom gespeen het.
24En sodra sy hom gespeen het, het sy hom met haar saam gebring, met drie bulle en ‘n efa meel en ‘n sak wyn, en sy het hom gebring in die huis van die HERE in Silo. En die seun was nog jonk.
25En hulle het die bul geslag en die seun by Eli gebring;
26en sy het gesê: Ag, my heer, so waar as u siel leef, my heer, ek is die vrou wat hier by u gestaan het om tot die HERE te bid.
27Om hierdie seun het ek gebid, en die HERE het my bede aan my gegee wat ek van Hom gebid het.
28So staan ek hom dan ook af aan die HERE al die dae wat hy leef; hy is aan die HERE afgestaan. En hy het die HERE daar aanbid.